Getuie in Rosebank skietsaak as vyandig beskryf

’N STAATSGETUIE in die saak teen die vier verdagtes wat van moord op Justin Booysen in sy huis in Bella Rosasingel, Rosebank, Oudtshoorn, in 2019 aangekla word, is verlede Donderdag in die Oudtshoorn streekhof as ’n vyandige getuie verklaar nadat die hof sy getuienis as blatante leuens verwerp het.

Die verhoor van Simphiwe Ndoni (32), Ephrahim Malgas (42), Breyton Bruiners (24) en Lorenzo Malgas (25), wat onskuldig pleit op al die klagtes teen hulle, is daarna vir verdere verhoor tot Augustusmaand uitgestel.

Die hof het ’n staatsgetuie, Kelvin Botha, as ’n vyandige getuie verklaar nadat hy getuig het dat hy nie kan lees of skryf nie en deur die ondersoekbeampte, ao Daromi Burger, gevra is om onderaan twee blanko-velle papier ’n A en ’n B, die voorletters van sy naam en van, aan te bring.

Sy het die letters vir hom op ’n los stukkie papier geskryf sodat hy dit kon naboots, het hy getuig.
Sy het glo ook aan hom gesê dat dit nie saakmaak hoe lelik hy dit skryf nie. Sy het hom ook na bewering R7 000 belowe en die versekering gegee dat sy die sake teen hom sal laat “verdwyn”.

Volgens die verklaring wat in die hof voorgelees is, het Malgas hom uit die tronk gebel en R10 000 aangebied om ’n hoofgetuie, ’n “Rasta”, dood te skiet met ’n vuurwapen wat hy by Malgas se vrou moes gaan haal.

Met die hoofgetuie uit die pad sal die staat dan nie ’n saak teen hulle, die beskuldigdes, hê nie.
Na die staatsaanklaer se versoek om ’n ondersoek te las of Botha ’n vyandige getuie is, is die ondersoekbeampte weer geroep om oor sy aantygings te getuig.

Burger het ontken dat sy hom twee skoon velle papier laat teken het.

Sy het getuig dat Botha haar laat roep het om sy verklaring af te neem omdat sy al voorheen ver-klarings van hom afgeneem het.

“Ek het neergeskryf wat hy aan my vertel het en nadat ek dit vir hom deurgelees en hy dit as die waarheid bevestig het, het hy dit onderteken. Onderaan bladsy een en aan die einde daarvan in die middel van bladsy twee.”

Streeklanddros Kenneth Peters het bevind dat Botha se getuienis in die hof blatante leuens is. Die hof het spesifiek verwys na sy handtekening aan die einde van die verklaring in die middel van die tweede bladsy.

“Hoe sou die ondersoekbeampte weet hoe lank die verklaring sal wees om die getuie op ’n skoon vel papier op daardie plek te laat teken.”

Die hof het Botha daarna as ’n vyandige getuie verklaar.

“Die hof ignoreer wat die getuie vandag in die hof getuig het, maar sal met versigtigheid kyk na sy verklaring. Die hof verklaar nie enigiets daarin as die waarheid nie, maar aanvaar dit as bewysstuk,” het die landdros gesê.

Malgas se regsverteenwoordiger, Wenzel Botha, het dit aan Burger gestel dat Malgas alles in die verklaring ontken.

Die saak is vir vier dae se verdere verhoor, van 1 tot 4 Augustus, uitgestel. (Deur Garnett Wicomb)