’N VROU van Dysselsdorp is Maandag in die Oudtshoorn Streekhof ’n opgeskorte vonnis van vyf jaar opgelê nadat sy aan roof met verswarende omstandighede skuldig bevind is.
Die 34-jarige Elmarie August, Mario Uithaler (33), die 19-jarige Anzil Stuurman en ’n 17-jarige jeugdige is daarvan aangekla dat hulle op 14 Augustus 2021 ’n buitelandse spazawinkel-eienaar in Bokkraalweg, Dysselsdorp van R700 kontant, 20 gros sigarette ter waarde van R2 000, Boxer-tabak ter waarde van R1 000 en ’n selfoon ter waarde van R2 000 beroof het.
Hulle het glo pepersproei en messe in die rooftog gebruik.
Almal het onskuldig gepleit terwyl August skuldig gepleit het op ’n klagte van diefstal.
Haar pleitverduideliking is egter nie deur die staat aanvaar nie.
Sy erken dat sy die betrokke dag baie kwaad was vir die winkeleienaar, die pa van hul driejarige kind, en hom met ’n beker koffie gegooi het.
Sy erken ook dat sy met ’n mes na hom gesteek het.
Sy het die geld uit die geldlaai gehaal en ook al die gesteelde goedere. Sy het dit later die dag by die polisiestasie gaan inhandig.
August is deur streeklanddros Sylvia Mandla skuldig bevind aan roof met verswarende omstandighede en haar medebeskuldigdes vrygespreek omdat geen getuienis voor die hof gebring is dat hulle by die rooftog betrokke was nie.
Haar regsverteenwoordiger, advokaat Pieter van Wyk, het die hof vir ’n vonnis ingevolge Art 276 (1) (i) gevra omdat sy ’n eerste oortreder is, twee kinders het om na om te sien en skuldig gepleit het.
Eugene Roos, regsverteenwoordiger van Uithaler, Stuurman en die jeugdige het vir hul vryspraak gevra omdat geen getuienis teen hulle voor die hof gebring is nie.
Die staatsaanklaer, Thuba Nyamate, het hiertoe ingestem maar vir direkte gevangenisstraf vir August gevra omdat sy aan ’n ernstige misdryf skuldig bevind is en ’n minimum vonnis van vyftien jaar ter sprake is.
Die hof het egter bevind dat ’n vonnis van vyftien jaar skokkend sal wees.
“Dit is duidelik dat daar ’n verhouding tussen die beskuldigde en die klaer was en hulle daardie dag baklei het oor hul eie goed. Nou moet die hof ook inkom vir hulle sake.
“Al die elemente voor die hof dui op roof met verswarende omstandighede en nie diefstal nie,” het die landdros gesê.
Die hof het in ag geneem dat August skuld erken het en ’n eerste oortreder is.
Sy is tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is. Sy is verder onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit. (Deur Garnett Wicomb)