SA for Hope bring hulp vir boere

Tydens Saterdag se uitreik, gereel deur “SA for Hope” is kruideniersware, water asook veevoer na die Kleynspoort area geneem. Foto’s verskaf

“SA for Hope” het die naweek, Saterdag 25 Maart ’n uitreik na Kleynshoogte in die Klein Karoo gehad. Daar is sowat 50 boere en hul werkersgesinne gehelp met kruideniersware, vars groente, gebottelde water, voer asook honde- en katkos.

Die area gaan reeds vir die afgelope agt jaar gebuk onder ’n erge droogte en wat bydra tot baie lae of geen grondwater om te kan plant, asook water vir die gebruik van mense en diere nie.

Hierdie area is totaal afhanklik van reënwater. Op 5 Maart vanjaar het daar egter ’n vinnige 53 mm geval wat die area pragtig laat vertoon het, maar min bygedra het tot die ondergrondse watervlakke, wat steeds nie genoeg gelig het nie, sodat boorgatwater kan voorsien word nie.

Besighede van regoor die Wes-Kaap en Tuinroete en selfs vanuit KwaZulu-Natal het saamgewerk, om te verseker dat hierdie uitreik suksesvol kon wees.

“Ons het nie genoeg woorde om dankie te sê aan elkeen wat betrokke is nie, elke uitreik staan mens verbaas as die bakkies met sleepwaens, motors en selfs trokke daar opdaag met groot hoeveelhede kos en voer,” het Pieter du Plessis, voorsitter van “SA for Hope”- span aan Die Hoorn gesê.

Volgens du Plessis hou dit mens plat op die aarde en nederig. Selfs leerders van Laerskool George-Suid, van George het saam gegaan om te help. “Om die omgee en liefde by sulke jongmense te sien is waarlik ’n riem onder die hart.” vertel hy. Na afloop van ’n uitreik is die organisasie se fondse getap en moet hul weer van voor af begin. Hul kry ook geen hulp vanaf die Staat of enige ander organisasies nie.

Ten spyte van stygende kostes soos brandstof en kospryse steek hul lede hulle hande uit en raak betrokke, en dit is die voorbeeld wat hul wil oordra in Suid-Afrika. “Maak nie saak wat nie, ons sal nie ons boere, hul werkers en die gemeenskappe aan hul eie lot oor laat nie.” sluit du Plessis af.

Enige persone wat betrokke wil wees, of enige bydrae wil maak in die vorm van blikkies kos, honde- of katkos, ’n sak voer, of selfs ’n bottel water kan vir Du Plessis kontak by 076 844 6435.