Met vee kan droogte bestuur word

Herman van der Walt, Sarah Cromhout (Herding Academy), Tembelihle Mjamba (Cape Nature), Sally Adams, Louis Jordaan, Sue Harris, Bridget Lloyd, Jan Fourie (NWGA). Foto: Chavoux Luyt, Cape Leopard Trust

DROOGTE is nie ’n nuwe konsep vir boere in die Klein Karoo nie, en klimaatsverandering gaan die toestande waarskynlik vererger.

Die eerste van twee Boer-saam-met-die-Natuur-werksessies is op 8 Maart by Bella de Karoo tussen Oudstshoorn en Calitzdorp deur Sarah Cromhout van die Herding Academy en Chavoux Luyt van die Cape Leopard Trust aangebied.

Cromhout, van die Herding Academy op Graaff-Reinet in die Oos-Kaap, is ’n voorstander van Alan Savory se benadering dat vee tot voordeel van natuurlike veld bestuur kan word.

Maar dan moet jy saam met die natuur boer en maak soos die natuur gemaak het toe groot troppe wild nog op die grasvelde van die vasteland voorgekom het.

Die Herding Academy laat die eeue-oue vaardigheid van herderskap en die nodige veldkennis met hul kursusse herleef.

Holisme
Die grondbeginsel van hierdie benadering is holisme, wat beteken al die stukkies van die plaaslandskap pas inmekaar. Die landskap is afhanklik van reën, en as die neerslag wisselvallig of min is, is die veld broos. Dit is ’n aanduiding van hoe die veld op droogte reageer en hoe lank ’n stuk veld bewei kan word, eerder as hoeveel stuks vee daar kan wei.

Die verband tussen roofdiere en prooi beïnvloed ook die broosheid. Waar roofdiere in ’n trop jag, beweeg die prooidiere ook in ’n trop en die wei- en hoefaksie het ’n invloed op die veld.

Tydsverloop bepaal hoe lank ’n veld wat afgewei en vertrap is sal neem om te herstel.

Vier eko-prossesse speel ’n rol in die landskap. Die watersiklus is die beweging van water uit die atmosfeer na die aarde, waar dit deur die plante en diere opgeneem word en weer uitgeskei word.

Minerale in die grond word deur plante opgeneem en oorgedra na diere wat dit eet voor dit weer terugkeer na die grond. Die biologiese gemeenskap is dinamies weens die konstante verandering van die plante en diere. Al die prosesse word deur die son se energie aan die gang gehou. Die boer moet hierdie siklusse en ekoprosesse binne die konteks van sy eie plaas in gedagte hou in die bestuur van sy plaas. Bestuursmiddels tot die boer se beskikking sluit tegnologie, die biodiversiteit van die veld, ’n weidingsplan wat tye insluit wanneer die veld kan rus, en ’n brandprogram in.

Bespreek vooruit, Die volgende werkswinkel oor die bestuur van roofdiere, insluitend jakkalse, rooikatte en luiperds wat probleme veroorsaak, vind op 19 April by Bella de Karoo plaas. Die werkswinkel kos R200 per persoon. Bespreek vooruit by capeleopard.org.za/shop/event
Kontak Sarah Cromhout by sarah@herding-academy.co.za of Contact Chavoux Luyt at the Cape Leopard Trust by chavoux@gmail.com. (Deur Angelique Erasmus)