TIEN verdagtes is sedert Vrydag, 22 Oktober in hegtenis geneem vir die gewapende roof by SWD Groentemark in Jonesstraat op Oudtshoorn.
Dit was die vyfde gewapende rooftog by ’n besigheid op die dorp sedert ’n transitoroof op 19 Julie by ’n vulstasie in Bridgton plaasgevind het en die Indraf Kafee en PP Kafee in Augustus beroof is. In September is die Halaal Cafe in Voortrekkerweg, een van Oudtshoorn se besigste strate, ook beroof. In al vier gevalle is verdagtes kort ná die rooftogte vasgetrek.
Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het die groep verdagtes Vrydagoggend aan die agterkant van die groentewinkel ingegaan waarna hulle wapens op werkers gerig het.
Michaels het gesê dat werknemers van die groentemark met kabelbinders, of cable ties, vasgebind is.
Volgens Michaels het die rowers R30 000 kontant, vyf selfone en die sleutel van ’n bakkie gesteel. Die verdagtes het daarna in ’n wit Toyota Quantum-bussie in die rigting van De Rust gevlug, waar hulle kort daarna deur polisiebeamptes van Prins Albert vasgekeer is. Speurders van Oudtshoorn is ook na die toneel ontbied om te bevestig dat die verdagtes wel in die bussie was. Met verdere ondersoek het die polisie die kontant, selfone en ook twee speelgoedwapens in die bussie gevind.
’n Negende verdagte is Vrydagaand in hegtenis geneem en volgens Michaels is ’n tiende verdagte tussen Saterdag en Sondag in hegtenis geneem. Al die verdagtes het Maandag (25 Oktober) in die Oudtshoorn Landdroshof verskyn. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Rowers wat speelgoedgewere gebruik blitsig vasgestrek
Die toneel agter die SWD Groentemark op Oudtshoorn waar tien rowers Vrydag, 22 Oktober toegeslaan het. Foto: Stefan Skapie Goosen
BAIE DANKIE DAT JULLE GOEIE DIENS EN GOEIE STORIES EN BERIGTE PLASS SODAT EK KAN LEES WAT IN MY DORP AAN GAAN HIER WAAR EK WERK IN QATAR BAIE DANKIE