DIE direkteur korporatiewe dienste by die Groter Oudtshoorn Munisialiteit, Reginald (Reggie) Smith, is nié voorlopig geskors nie en sál ook nie geskors word nie.
So het die onderburgemeester van die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit, Gavin Juthe by ’n pers-konferensie Maandag (25 Oktober) gesê.
Die Hoorn het op 14 Oktober berig dat Smith, na wat betroubaar verneem is, by ’n spesiale raadsvergadering voorlopig geskors is en sewe dae gehad het waarin hy redes moes verstrek waarom hy nie geskors moes word nie.
Juthe het bevestig dat Smith wel van hierdie geleentheid gebruik gemaak het. “Die proses was bloot deel van die administratiewe aksie wat geneem moet word in so ’n proses. Mnr. Smith het ’n dokument ingedien, ons het dit bespreek in die raad en ons het die inhoud van sy dokument aanvaar. In hierdie stadium is daar geen skorsing nie,” het hy gesê.
Verdere navrae rondom die kwessie is aan die munisipaliteit gestuur op kort kennisgewing, maar teen druktyd is nog geen terugvoer ontvang nie.
• Smith het sedert begin Augustus 2019 in die kernpos van munisipale bestuurder by die Groter Oudtshoorn waargeneem tydens die termyne van twee DA-burgemeesters, Colan Sylvester en Chris Macpherson.
Hy is waarnemend as munisipale burgemeester aangestel toe die DA-raadslede in 2019 besluit het om Allen Paulse as munisipale bestuurder te skors.
Paulse se skorsing het ná maande se spanning tussen Paulse en Sylvester gevolg, met die DA-raadslede wat nie eenstemmig was oor die skorsing nie, maar glo ’n koukusbesluit moes gehoorsaam.
Smith het sedert die begin van die maand teruggekeer na sy pos as korporatiewe bestuurder toe die raad deur Icosa, die ANC en Sarco oorgeneem is en Walter Hendricks as waarnemende munisipale bestuurder aangestel is. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Smith nié geskors, sê Juthe
Die onderburgemeester, Gavin Juthe, tydens ’n perskonferensie Maandag, 25 Oktober.
Foto: Stefan Skapie Goosen