Ouma 10 jaar tronk toe vir moord

’n VROU van Calitzdorp, Elizabeth Baartman (55), ’n ouma van twee kleinkinders, wat haar saamleefmaat met ’n groentemes doodgesteek het, is Vrydag 22 Oktober in die Oudtshoorn streekhof tien jaar gevangenisstraf op-gelê nadat sy aan moord skuldig bevind is.

Baartman het getuig dat sy op 17 Oktober 2020 vir Henry Pietersen een keer in die bors gesteek het. Hy is op die toneel dood.

Sy het onskuldig ge-pleit en aangevoer dat sy uit noodweer opgetree het en nie bedoel het om Pietersen dood te steek nie.

Sy het ontken dat sy die oorledene ook in sy rug en arm gesteek het en gesê dat dit “ou wonde” was.

Dr Christa Hattingh, wat die nadoodse ondersoek gedoen het, het egter getuig dat die wonde almal vars was.
Baartman se regsverteenwoordiger, Wenzel Botha, het die hof versoek om af te wyk van die voorgeskrewe minimum vonnis van vyftien jaar omdat daar wel wesenlike en dwingende omstandighede bestaan. Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het die hof egter vir ’n lang vonnis gevra omdat Baartman ’n ernstige midaad gepleeg het wat te dikwels in die distrik plaasvind. Sy het ook geen berou getoon nie. Haar lewe was ook nie in gevaar toe sy Pietersen gesteek het nie.

Streeklanddros Ntsoki Moni het met vonnisoplegging gesê die howe beskerm vroue teen mishandeling maar vergeet te dikwels hoeveel mans deur vroue mishandel word.

“Daar is ongelukkig nie statistieke beskikbaar nie omdat mans dit moeilik vind om sake teen hul metgeselle te maak. Hulle neem eerder die reg in eie hande.”

Volgens haar voer vroue dikwels aan dat hulle uit selfverdediging opgetree het en kom dan lig daarvan af.

Die hof het bevind dat ’n opgeskorte of korrektiewe toesigvonnis nie gepas sal wees nie. (Garnett Wicomb)