DIE Oudtshoorn Munisipale Raad gaan appelleer teen die onlangse hooggeregshofuitspraak dat rioolheffings van die Oudtshoorn Munisipaliteit onwettig is en binne 120 dae reggestel moet word.
Die Hoorn het op 14 Oktober berig dat regter Kate Savage se uitspraak op 6 Oktober verreikende gevolge kan hê op munisipaliteite regoor die land wat soortgelyke tariewe aan inwoners hef.
In die hofsaak het die AfriForum-tak op Oudtshoorn die rioolheffings van die munisipaliteit betwis. Daar is aangevoer dat die rioolheffings wat per toilet in huishoudings gehef word, onwettig is en teenstrydig is met wetgewing.
Die hofsaak het gevolg ná Anton Bredell, Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, AfriForum in 2018 uitgedaag het om die twispunt in die hof te toets.
Die Hoorn het reeds in Junie 2018 berig dat die riooltariewe volgens AfriForum al sedert 1 Maart 2001 verkeerdelik gehef word. AfriForum het toe reeds gesê dat moontlike regsaksie sou volg indien die munisipaliteit “in gebreke bly” om aan hul versoek gehoor te gee. Ná verskeie onsuksesvolle vergaderings met Bredell en die munisipaliteit het AfriForum besluit om hom tot die hof te wend.
Op navraag oor die uitspraak het Walter Hendricks, waarnemende munisipale bestuurder, gesê dat hulle nie bewus was van die uitspraak nie en hulle kommentaar sal lewer sodra hulle dit (die uitspraak) ontvang het.
By ’n perskonferensie Maandag, 25 Oktober, het die onderburgemeester van die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit, Gavin Juthe gesê dat die raad nie bewus was dat die munisipaliteit ’n respondent was nie, maar dat hulle dit agtergekom het toe hulle die uitspraak ontvang het. “Ons kry nêrens dokumentasie dat ons ’n dokument uit die hof ontvang het wat sê ons moet ons kom verdedig nie,” het hy gesê. “Die proses is nou dat ons verdediging of appel gaan moet aanteken en dit is presies wat ons gaan doen,” het hy gesê.
Volgens Juthe is daar ’n paar onduidelike aspekte, waarvan een is dat die aanpassing van tariewe nie wettiglik moontlik sal wees binne 120 dae nie. “Wetgewing sê ek moet wag vir ’n begrotingsproses, so die hof moes hom daardeur laat lei het,” het hy aangevoer. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Riooltarief-uitspraak: raad gaan appelleer
