Verkragter kry swaar vonnis

’n MAN van Bergsig, Calitzdorp, is verlede Woensdag in die Oudtshoorn Streekhof twee lewenslange vonnisse opgelê vir die verkragting van ’n vyftienjarige meisie.

Derick Conradie (42) is daaraan skuldig be-vind dat hy op 24 April en 1 Mei 2020 geslagsgemeenskap met die meisie gehad het.

Conradie se regsverteenwoordiger, Cindy Smith, het die hof versoek om af te wyk van die minimum vonnis omdat daar “dwingende en wesenlike omstandighede bestaan” om dit te doen. Conradie was vir langer as ’n jaar in aanhouding terwyl die meisie volgens Smith nie ernstige beserings opgedoen het nie.

Die staatsaanklaer, Elaine Plaatjies, het egter nie saamgestem nie, en die hof vir le-wenslange gevangenisstraf gevra.

Die streeklanddros Daniel Boks het met vonnisoplegging gesê die tydperk van aanhouding vir ’n misdaad waarvoor die minimum vonnis lewenslange gevangenisstraf is, nie as “dwingende omstandig-hede” beskou kan word nie.

Die hof moet ’n vonnis oplê wat die wrewel en weersin van die gemeenskap weerspieël. Die meisie is volgens ’n slagofferimpakverslag erg getraumatiseer en sy voel verneder.

Conradie het ook geen berou getoon nie.

“Verkragting is die dierlike skending van iemand se regte en aantasting van ’n vrou se mees private reg,” het die landdros gesê.

Die hof het ook beveel dat sy naam in die nasionale register vir seksoortreders opgeneem moet word.
Hulle gaan teen die vonnis appelleer. (Garnett Wicomb)