DIE Oudtshoorn munisipale raad het Donderdag, 21 Oktober ’n mosie aanvaar om die ontwikkelingsooreenkoms met die konstruksiemaatskappy Asla onmiddellik te beëindig.
Asla is die maatskappy wat verantwoordelik is vir die beplanning en implementering van behuisingsprojekte wat munisipaliteite en die regering deur middel van ’n tenderproses goedgekeur het. Meer onlangs het die Wes-Kaapse minister van menslike nedersettings, Tertuis Simmers ’n sooi-spit op Dysselsdorp bygewoon waar die Dysselsdorp Ontwikkelingsprojek geloods is wat deur Asla gebou sal word.
Volgens die onderburgemees-ter van die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit, Gavin Juthe, wat die voorstel gemaak het, is daar bevind dat paaiemente wat aan Asla gemaak is in ’n ouditverslag as “onreëlmatige uitgawes” bestempel is.
Die mosie sal volgens Juthe nou die administratiewe proses volg. Saam met die aanvanklike mosie, het Juthe ook voorgestel dat die implimenteringagent-ooreenkoms en -verstandhouding met Asla ook onmiddellik beëindig moet word, dat die Wes-Kaapse departement van menslike nedersettings ingelig word oor die besluit en dat die raad sy goedkeuring aan die departement gee om voort te gaan met die Dysselsdorp Ontwikkelingsprojek en dit te voltooi.
Asla is volgens Juthe op 24 Maart 2010 aangestel as ’n agent wat die hele bouproses van begin tot einde behartig in die Groter Oudtshoorn nadat ’n tenderproses gevolg is, met die gevolg dat die maatskappy en die munisipaliteit op 2 Augustus daardie jaar ’n ooreenkoms ge-sluit het.
’n Hersiende ooreenkoms is volgens Juthe op 25 November 2014 onderteken waarin ’n lys projekte, of ontwikkelingsplan, deur Asla saamgestel is en aan die munisipaliteit oorhandig is, insluitend die Dysselsdorp-projek.
Dit is hier waar die probleem ontstaan het – volgens Juthe beteken dit dat projekte wat nie deel van die Maart 2010-ooreenkoms was nie, nie onderhewig was aan ’n tenderproses nie.
Die ouditeur-generaal van Suid-Afrika het reeds met die 2017/2018 verpligte finansiële oudit bevind dat die regte stappe nie gedoen is toe die Asla-kontrak verleng is nie.
Simmers het by navraag gesê dat dit ’n plaaslike regeringskwessie is en dat hy nie betrokke raak by enige verkrygingsprosesse en voorsieningsbestuur nie. Hy het bygevoeg dat sy departement nie in ’n posisie is om terugvoer te gee op die mosies nie. “Die ooreenkoms is tussen Asla en die munisipaliteit,” het hy gesê. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Asla-kontrak beëindig
Tertuis Simmers afgeneem by die sooispit op Dysselsdorp.