VERSKEIE mosies en besluite is die afgelope maand deur die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit voorgestel en aanvaar. By ’n perskonferensie Maandag, 25 Oktober het Gavin Juthe, onderburgemeester, die besluite verduidelik. Juthe het verwys na raadsvergaderings wat onderskeidelik op 7 en 21 Oktober plaasgevind het.
Dit gaan volgens Juthe tans deur die administratiewe prosesse om goedgekeur en uitgevoer te word.
• Aansoek om befondsing van die Development Bank of Southern Africa (DBSA), 7 Oktober:
Volgens Juthe het die Oudtshoorn munisipale raad ’n aansoek om befondsing by die DBSA ingedien en wag die raad tans op terugvoering. Die DBSA is ’n staatsbeheerde ontwikkelingsfinansieringsinstelling met die mandaat om ekonomiese groei sowel as streeksintegrasie vir volhoubare ontwikkelingsprojekte en -programme in Suid-Afrika, SAOG en die wyer Afrika suid van die Sahara te bevorder. Volgens Juthe sal die befondsing help met infrastruktuurbeplanning, -oprigting en -instandhouding.
• Ongebruikte erwe, 7 Oktober:
Die raad het besluit om geïdentifiseerde erwe wat tans leeg staan of nie gebruik word nie, te verkoop of te verhuur aan besighede. Die erwe sal op tender geplaas word en teen markverwante pryse, bepaal deur die wet en spesifiek die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur (MFMA), verkoop of uitverhuur word.
• Dienste aan plaaswerkers en -bewoners, 21 Oktober:
Die mosie is by die raadsvergadering voorgestel en aanvaar. “Die model van dienste aan die plaas-eienaar sal heroorweeg word en die munisipaliteit sal met plaaseienaars onderhandel en aansporings oorweeg waar die plaaseienaar behuising en dienste aan die plaaswerkers en regmatige bewo-ners lewer,” sê Juthe.
Dit beteken volgens Juthe dat die plaaswerkers en -bewoners dieselfde of soortgelyke dienste sal ontvang as die plaaseienaar.
• Dienste aan agterplaasbewoners, 21 Oktober:
In dieselfde raadsvergadering is ’n voorstel aanvaar dat die raad oorweging sal skenk aan ’n begroting wat dit in staat sal stel om ’n tweede water- en elektrisiteitspunt vir agterplaasbewoners te installeer, omdat die las wat op die huieienaars geplaas word “onregverdig” is en hulle nie uit munisipale kortings voordeel kan trek nie.
“Agterplaasbewoners plaas geweldige druk op die dienste wat aan huiseienaars verskaf word, in besonder waar die huiseienaar sy deernistoelae verloor as gevolg van die beleid van die Raad ten opsigte van hoë gebruik,” het Juthe gesê.
As interne befondsing nie moontlik is nie sal die raad volgens Juthe ’n eksterne bron om befondsing identifiseer. (Deur Stefan Skapie Goosen)