UITSPRAAK word vandag (Donderdag 28 Oktober) in die Oudtshoorn Streekhof gelewer in die borgaansoek van ’n voormalige balju van Oudtshoorn wie se aansoek om teen sy vonnis van 36 jaar te mag appelleer, in die Kaapse Hooggeregshof geslaag het.
Die 42-jarige Abraine Coerecius wat hom as ’n prokureur voorgedoen en huise en erwe aan mense verkoop het wat hy nie besit het nie, is skuldig bevind op ses klagtes van bedrog, een van geldwassery en dat hy hom as prokureur voorgedoen het.
Hy is tot 44 jaar gevangenisstraf gevonnis waarvan agt jaar samelopend met van die ander vonnisse uitgedien kan word.
Sy regsverteenwoordiger, advokaat Benito Metembo, het die hof meegedeel dat Coerecius geen hangende sake teen hom het nie en geregtig is op borgtog.
Hy is nie ’n vlugrisiko nie en het nooit van die hof weggebly tydens die duur van sy verhoor nie.
Streeklanddros Ntsoki Moni het die saak vir ’n beslissing tot vandag toe uitgestel nadat sy die amptelike dokumente van die hooggeregshof ontvang het. (Deur Garnett Wicomb)