Dink mooi voor jy jou kruisie trek
BIETJIE meer as 20 jaar gelede het ek besluit om ’n raadslid te word. Hoekom? Ek het gevoel dat ek wil deel wees van ons dorp en dat ek miskien ’n positiewe bydrae kon maak.
Ons het so ’n pragtige dorp gehad. Let wel, gehad. Ons het munisipale bestuurders soos Michael Schultz en Jan Smit gehad, manne met kennis, dissipline, leierskap en integriteit. Geen slaggate, geen stukkende sypaadjies nie. Die strate en parke was skoon en netjies, die voertuie was heel en padwaardig, daar was maar min werkloosheid en die munisipale dienste was uitstekend. Daar was wet en orde en ’n mens kon veilig hier woon. Die beste was dat ons belastings goedkoper was as George en Mosselbaai.
Ek het egter ’n probleem gehad: ek was nie eers lid van ’n politieke party nie. Die laaste party wat ek ondersteun het was die Konservatiewe Party en dié het ook nie meer bestaan nie, en tye het drasties verander. Dit het beteken dat ek ook moes verander of agterbly. Ek het by die DA aangesluit en ek is toe gekies as wyksraadslid.
Baie gou het ek besef ek weet niks. Ek was ’n medebesluitnemer maar sonder enige kennis van raadsake. Ons klomp blindes is ook gelei deur die eenoogmanne wat bietjie meer as niks kennis gehad het nie en die leiding was nie altyd goed nie.
Ek moes leer oor munisipale wette, ordonansies, regulasies, stelsels, die politieke beginsels van die betrokke partye en die belangrike antwoorde op alle vraagstukke. Ja, dis waar dat as die partyleiers gesê het dit is groen dan was dit groen, maak nie saak wat jy as raadslid gedink het nie.
Die politiek en magsbeheptheid was om van siek te word.
Die gebrek aan kennis van raadslede, die negatiewe besluite oor goeie voorstelle veroorsaak deur die politiek het my slapelose nagte gegee.
Die belastingbetalers kla dikwels oor die salarisse wat raadslede ontvang (ons het R2 600 ’n maand gekry), maar dit is baie werk. Ek dink as jy dit reg doen is dit ’n voltydse werk: as jy komiteevergaderings bywoon en jou op hoogte hou van gebeure en ontwikkelings deur die betrokke persele te besoek. Ongelukkig is daar baie min sulke raadslede.
Nou sien ek in die koerant die mooi gesigte, mooi dasse, blink pakke en die beloftes, baie mooi beloftes! Vra jouself af, wat is hulle motivering? Is dit die salaris, is dit die mag en status of is dit ’n opregte belang om ons dorp ’n beter plek te maak?
Die munisipaliteit is in werklikheid ’n baie groot maatskappy wat deur hierdie raad (eintlik direksie) bestuur moet word. Kan hulle? Is hulle bekwaam, het hulle enige kwalifikasies en ondervinding, wat weet hulle van munisipaliteite? Het hulle integriteit? Dit maak ’n mens bang om te dink hulle moet nog baie leer. Dit maak ’n mens bang om te dink hulle maak beloftes – hulle gaan groot skrik wanneer hulle met die werklikheid gekonfronteer word.
Die nuwe raad het ’n reuse-taak op hande. Ek hoop hulle het die ywer en die kennis en ook die finansiële ondervinding om hierdie reuse-maatskappy (die Oudtshoorn Munisipaliteit) so te bedryf. Ek hoop dat daar baie min slegte skuld is, dat ons goeie diens gaan kry en die verval van ons pragtige dorp sal stuit. Pieter Retief (brief verkort – Red)