Roofverdagte sterf in aanhouding

EEN van die tien verdagtes in die gewapende roofsaak by die SWD Groentemark in Oudtshoorn het in aanhouding gesterf.

Die saak is Woensdag 18 Januarie in die streekhof tot 15 Februarie uitgestel.

Die tien verdagtes, waaronder ’n 18-jarige van Kaapstad, word daarvan aangekla dat hulle op 22 Oktober verlede jaar werknemers van die groentemark met vuurwapens gedreig, vasgebind en van sowat R30 000 kontant en vyf selfone beroof het.

Agt van hulle is nog dieselfde dag naby Prins Albert in hegtenis geneem en twee ander die volgende dag.

Die saak was Woensdag vir pleit en verhoor op die hofrol geplaas, maar moes uitgestel word nadat ’n nuwe regsverteenwoordiger vir een van die beskuldigdes op rekord gekom het. Die saak dien voor streeklanddros Sylvia Mandla. (Deur Garnett Wicomb)