‘Veedief’ hoor vandag sy lot

’n VERMEENDE veedief en inbreker van Oudemuragie naby De Rust sal vandag (Donderdag 26 Januarie) hoor of die hof sy verweer gaan glo.

Die 26-jarige Nico Okkers het glo op 27 Julie 2021 by ’n gastehuis ingebreek.
Hy word ook daarvan aangekla dat hy ’n boerboklammetjie van Johan van der Berg gesteel het en dat hy by ’n ander geleentheid ’n skaap gesteel het wat hy by sy huis geslag het.

Okkers pleit onskuldig en voer aan dat hy per ongeluk die gastehuis se venster stukkend gegooi het. Hy het daarna deur die venster geklim om die klip te gaan uithaal.

Volgens hom het die voorval helder oordag plaasgevind. Die gastehuiseienaar het egter getuig dat sy omstreeks vyfuur die middag die huis verlaat het en die volgende oggend met haar terugkeer gesien het dat die venster gebreek is.

Okkers het getuig dat hy die boerboklammetjie langs die pad opgetel het en dit net aan die mense wat naby hom woon wou gaan wys het.

Hy het volgens hom die karkas van die skaap, wat die polisie langs sy huis gevind het, op ’n vullishoop opgetel.

Die staatsaanklaer Zelda Jass het die hof gevra om Okkers op al drie aanklagte skuldig te vind omdat sy verweer nie geglo kan word nie. Okkers se regsverteenwoordiger, Brain Carelse, het egter die hof gevra om wel sy getuienis te glo. (Deur Garnett Wicomb)