“DIT was ’n sinnelose moord.”
So het streeklanddros Sylvia Mandla verlede week met die vonnisoplegging van Dominique Stanley (23) van Blomnek, De Rust gesê toe sy Stanley vir vyftien jaar tronk toe gestuur het.
Stanley het Candice Potgieter (19) op 25 Julie 2021 op Riemvasmaak ná ’n stryery met ’n mes in die bors gesteek.
Die staatsaanklaer, Brandon Smith, het die hof vir die minimum vonnis van vyftien jaar gevra omdat Stanley geen berou toon nie en daar geen wesenlike of dwingende omstandighede bestaan om daarvan af te wyk nie.
“Hy het nie net ’n vrou doodgemaak nie, maar ’n driejarige seuntjie sonder ’n ma gelaat,” het Smith gesê.
Die familie van die oorledene het ook die hof in ’n slagofferimpakverslag vir ’n swaar vonnis gevra en gevra dat die tronksleutels weggegooi word.
Mandla het met vonnisoplegging gesê die enigste genade vir Stanley is dat die hof nie ’n addisionele vyf jaar by die voorgeskrewe minimum vonnis voeg nie.
Volgens haar het die hof ’n plig teenoor die gemeenskap om mense soos Stanley ’n swaar vonnis op te lê.
“Die hof moet ’n duidelike boodskap uitstuur en die vertroue in die howe verseker.”
Die hof het ook bevind dat ’n korrektiewe toesigvonnis nie ’n gepaste vonnis sal wees nie.
Stanley is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.
Die familie van die oorledene het hul tevredenheid met die vonnis uitgespreek. (Deur Garnett Wicomb)