Brandslagoffers ter ruste gelê

Roubeklaers van regoor Oudtshoorn het Sondag 22 Januarie die Nirvadasaal in Bongolethu volgepak om die begrafnis by te woon van die ses lede van ’n gesin wat op 12 Januarie in ’n brand gesterf het. Foto: Garnett Wicomb

HONDERDE inwoners van veral die informele woongebiede Kanaalweg en Black Joint, het Sondag 22 Januarie die Nirvadasaal in Bongolethu op Oudts-hoorn volgepak vir die begrafnisdiens van die ses familielede wat die oggend van 12 Januarie in hul woonstruktuur in Kanaalweg doodgebrand het.

Talle begrafnisgangers moes die diens van buite die kerk volg.

Tiena Mei (70), Arrie Mei (60), Katrina Mei (51), Isak Mei (29), Patricia Mei (22) en Payton Mei (een jaar en sewe maande) was aan die slaap toe hul blyplek onverklaarbaar begin brand het.

Mense wat die brand probeer blus het, het probeer om die gesinslede te bereik maar kon weens die erge vlamme nie tot die ses se redding kom nie.

Die begrafnisdiens is onder meer bygewoon deur die burgemeester van Oudtshoorn, Chris Macpherson, enkele raadslede en talle geestelike leiers.

Apostel Phillip Olyn het Johannes 16:23 gebruik om die familie te troos. Dit lui: “Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê.

In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, ek het die wêreld oorwin.”

Volgens Olyn gebeur alles in die lewe met ’n doel – so ook die dood van die ses familielede.

“Ons sal verdrukking hê. Dinge soos die dood, siektes, haat en gemeenskappe wat teen mekaar opstaan is alles voorbeelde van verdrukking. In die verlede was my kind jou kind en jou kind myne, maar dit het alles verander en is deel van die verdrukking,” het Olyn gesê.

Inwoners van Kanaalweg het met brandende kerse die lied.

“Dit is so hard om totsiens te sê”, gesing.

Elsie Fortuin het in haar huldeblyk die bedroefde familie gevra om die Here in hul lewens aan te neem.

Raadslid Zoe Tyatya het namens die munisipaliteit en inwoners hul meegevoel met die oorledenes se naasbestaandes betuig en vir samewerking tussen gemeenskappe gepleit.

Hy het ook sy dank en waardering uitgespreek teenoor Strydom Begrafnisdienste wat die begrafnis gratis vir die familie gedoen het. (Deur Garnett Wicomb)