OM skoolhoof te word in ’n voormalige Model C-skool is per se ’n uitdaging, maar om ’n vrou te wees verhoog hierdie uitdaging.
Dit is presies wat die 50-jarige Alnorah Bell van Zoar besef het toe sy as waarnemende prinsipaal by Hoërskool Ladismith aangestel is.
Sy is die tweede persoon van kleur na meneer Sammy Eli, wat in hierdie voormalige “wit” skool aangestel is.
Die Hoorn het met die vrystelling van die onlangse matriekuitslae die kans benut om met Bell te gesels.
Die skool het ’n slaagsyfer van 97,9% vir 2022 behaal. Dit het gou duidelik geword dat Bell die belange van leerders eerste stel en dat sy van opvoeders verwag om altyd die leerder se belange eerste te stel en deeglik bewus te wees van die omstandighede van elkeen van hul leerders.
Bell glo dat haar opvoeders moet toesien dat leerders gemotiveerd bly, deur take aan hulle te gee wat hul kreatiwiteit prikkel en hul eiewaarde verhoog.
Effektiewe kommunikasie verhoog klaskamerbestuur en opvoeders moet persoonlik verantwoordelikheid aanvaar vir leerders se sukses.
Bell noem dat opvoeders ook buite die klaskamer ’n effektiewe rol in die leerder se lewe kan speel.
“ ’n Optimistiese opvoeder steek die optimisme in leerders aan. Deurgaanse oogkontak met leerders is baie belangrik,” sê sy.
Bell noem verder dat sensitiewe inlig-ting met betrekking tot leerders op ’n hoogs vertroulike basis hanteer moet word.
Opvoeders moet die welstand van hul kollegas sowel as hul leeders op die hart dra, sê sy.
Met ’n vorige besoek aan die skool het Bell ’n viertal matrieks aangespreek en gemotiveer om hul gedragspatroon te verbeter en noem sy nou met trots dat al vier die leerders hul matrieksertifikaat bevredigend verwerf het.
Dit is duidelik dat hierdie vrou die belange van elke leerder en kollega op die hart dra, en daarmee sukses bereik. (Deur Deon Meyer)
Skoolhoof se vertroue in haar leerders verbeter matriekuitslae
Alnorah Bell, prinsipaal van Hoërskool Ladismith, is trots op die matriekklas van 2022. Foto: Deon Meyer