Rondganger sing nou ander deuntjie oor moord

Eric Xaxaka (60) van Bongolethu se lyk is op 8 April 2022 in ’n graf onder twee yskaste in ’n buitekamer gevind. Foto Facebook.

DIE saak teen Patrick Rondganger (37) wat daarvan aangekla word dat hy die pa van sy meisie in sy huis in Bongolethu op Oudtshoorn vermoor het en in ’n vlak graf begrawe het, is Dinsdag in die Oudtshoorn streekhof tot 6 Februarie uitgestel, nadat hy besluit het om skuldig te pleit.

Rondganger staan tereg op aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede en dwarsboming van die gereg.

Eric Xaxaka (60) van Bongolethu se lyk is op 8 April 2022 in ’n graf onder twee yskaste in ’n buitekamer gevind.

Hy is op 6 April as vermis by die polisie aangemeld. Rondganger het saam met lede van die gemeenskap en die polisie na Xaxaka gesoek.

Rondganger het tydens sy borg-aansoek, wat geweier is, aangedui dat hy onskuldig sou pleit omdat hy na bewering nie die betrokke dag op Oudtshoorn was nie.

Hy het egter nou van deuntjie verander.

Die staatsaanklaer, Brandon Smith, het Dinsdag aangedui dat die staat Rondganger se pleit met enkele wysigings sal aanvaar en dat die saak waarskynlik op 6 Februarie afgehandel sal word.

Rondganger se regsverteenwoordiger, Bradley Samuels, is versoek om die dokument voor dié datum aan die staat beskikbaar te stel.

Die saak word deur streeklanddros Sylvia Mandla aangehoor. (Deur Garnett Wicomb)

Be the first to comment on "Rondganger sing nou ander deuntjie oor moord"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*