DIE borgaansoek van ’n man van Oudtshoorn wat van aanranding met die opset om ernstig te beseer aangekla word, nadat hy glo ’n eenjarige kind aan die arm rondgeruk en gedreig het om hom op die grond te gooi, is as gevolg van te min hoftyd in die Oudtshoorn distrikshof tot 24 Januarie uitgestel vir ’n formele borgaansoek.
Die 31-jarige Ashwin Pietersen is deur die polisie se eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele oortredings in hegtenis geneem nadat ’n video van die beweerde voorval op sosiale media versprei is.
Op die video word die eenjarige seuntjie rondgepluk en die man dreig glo om hom op die teerpad neer te gooi.
Mense het probeer om die kind by Pietersen te vat, maar hy is weggeruk en aan die arm rondgepluk.
Die voorval is glo deur die kind se tannie afgeneem.
Die saak dien voor landdros Vaughn Shone. (Deur Garnett Wicomb)
Man in hof wat eenjarige glo rondswaai
