DIE verhoor van Andrew Blaauw (27) van Hazenjacht naby Dysselsdorp is tot 2 Februarie uitgestel nadat ’n dokter en polisiebeampte in die saak getuig het. Blaauw, wat tereg staan op ’n klagte van moord, het daarop aangedring dat die hof twee assessore vir sy verhoor aanstel.
Blaauw word van moord op die 17-jarige Gershwin Olivier op 6 November 2020 aangekla. Hy ontken skuld.
Wenzel Botha, Blaauw se regsverteenwoordiger, het gesê dat sy kliënt sal getuig dat hy die betrokke aand uit selfverdediging opgetree het toe Williams hom aangeval het.
Daar was ook volgens Blaauw ander mense met wapens soos grawe en tuinvurke teenwoordig.
Hy sal ook glo getuig dat die bebloede klere wat in sy huis gevind is nie aan hom behoort nie.
Volgens konst Patrick Jaftha het hy ná die moord na Blaauw se woning gegaan en beslag gelê op bebloede klere wat die beskuldigde glo die aand aangehad en daarna gaan uittrek het.
Blaauw het hom meegedeel dat hy niks van die moord weet nie. Sy broer, Jeandre Blaauw, het hom die huis ingeneem en hom die bebloede klere gewys.
Dr Mariette Hurst, wat die nadoodse ondersoek op Olivier gedoen het, het getuig dat hy gesterf het aan ’n steekwond in sy nek en hy het ook twee steekwonde in sy rug gehad.
Al die wonde was volgens haar vars wonde.
Sy het ook getuig dat die wonde volgens haar nie met ’n graaf of met ’n tuinvurk, soos wat die beskuldigde voorgee, toegedien kon gewees het nie.
Blaauw se regsverteenwoordiger, Wenzel Botha, het die hof meegedeel dat hy wel sal getuig, maar uitstel gevra vir verdere konsultasie ná die getuienis van die dokter en die polisiebeampte.
Die saak dien voor streeklanddros Ntsoki Moni, wat deur twee assessore, Gladys George en Kenneth Grootboom, bygestaan word. (Deur Garnett Wicomb)
Moordsaak teen Blaauw weer Februarie hervat
