Rivier is prioriteit vir burgemeester

Oudtshoorn se uitvoerende burgemeester, Johan Allers, het Dinsdag met ’n aantal inwoners en rolspelers langs die Grobbelaarsrivier gesels.

Allers het reeds met die sakekamer se netwerkaand gesê die munisipaliteit het toestemming van die departement van omgewingsake om dringende op- ruimingswerk in die rivier te doen om skade aan eiendomme te voorkom wanneer die rivier in vloed is.

“Die rivier raak ons almal en ek wil graag die rivier by die “Ek help-ook projek” insluit. Ons het die rivier vanaf Noordstraat tot by Rademeyerstraat in nege sones opgedeel.

Die idee is dat inwoners in elke sone ’n komitee vorm en dan voorstelle maak oor hoe hulle by die skoonmaak van die rivier betrokke kan raak,” het hy Dinsdag gesê.

Die munisipaliteit se omgewingsamptenaar, Ambrose Carelse, was Dinsdag ook by die gesprek om te verduidelik wat tans deur omgewingsake toegelaat word en watter wysigings versoek moet word. Inwoners van Raubenheimerstraat was ook by die gesprek.

Een van hulle het foto’s gewys van die watervlak van die rivier wat tot by sy huis kom omdat die water as gevolg van verskeie faktore nie vinnig genoeg kan wegloop nie.

Dit blyk dat dit veral die gedeelte tussen Rademeyerstraat en die treinbrug is waar water deur riete en ander versperrings gekeer word en nie vrylik kan deurvloei nie.
Allers het onderneem om die projek aan meer inwoners bekend te stel sodat mense solank hulp en samewerking kan aanbied. (HANNES VISSER)