Ondersteuningsgroep vir FND-lyers

Peet Vermaak, het ’n ondersteuningsgroep vir persone met FND gestig. Foto: Hannes Visser

Toe Peet Vermaak se vrou, Maureen, twee jaar gelede begin sukkel om te eet, het hulle nie geweet daar gaan 22 maande verloop voordat haar toestand korrek gediagnoseer sou word nie.

Sy kon glad nie sluk nie, sy het selfs simptome van ’n beroerte getoon en kon soms glad nie praat nie. Twee maande gelede is sy gediagnoseer met FND (Functional Neurological Disorder).

Peet sê in eenvoudige terme beteken dit dat die brein niks makeer nie. Die brein funksioneer normaal, maar die boodskappe wat die brein aan die verskillende senuwees moet stuur om hulle te aktiveer raak verlore.

Die proses het Peet laat besef dat daar geweldige onkunde oor FND is en dat daar baie mense is wat ook deur dieselfde proses gaan. “Die spesialis het vir ons gesê daar is nie ’n kitsoplossing nie.

Die siekte is deels neurologies en deels psigiatries en ons moet ons voorberei vir ’n lang pad wat waarskynlik nie tot volle herstel sal lei nie.”

Peet het begin navorsing doen en besef daar is baie Suid-Afrikaners wat aan FND ly, maar statistiek is nie beskikbaar nie. “Ek het net op een Facebookblad afgekom wat oor FND handel en ek het toe besluit ek moet iets doen om ondersteuning en bewusmaking te bewerkstellig.”

“FND is uiters onvoorspelbaar. Maureen weet nie vooraf wat gaan gebeur nie. Soms sit ons en gesels en dan kan sy skielik nie meer praat nie, of sy kan glad nie opstaan nie. Dit is eintlik ’n onsigbare gestremdheid,” sê hy.

Hy het verlede week die Facebookblad, Functional Neurological Disorder (FND) Support Group SA, gestig. Hy nooi mense uit om die boodskap oor die ondersteuningsgroep te versprei en om hom by 071 057 0636 te kontak. “Hoe meer mense wat aan FND ly of FND-lyers moet versorg, van mekaar weet hoe meer kan ons by mekaar leer en mekaar ondersteun,” sê hy. (HANNES VISSER)