
Die rekenmeestersfirma, Lamprecht en Meyer, in St Johnstraat, Oudtshoorn het ’n uitdaging aan ander ondernemings gerig, nadat hulle op Woensdag 10 September R6 000 aan twee diereorganisasies oorhandig het.
Die maatskappy het R3 000 aan Lee-Ann van Sittert van The Cat Hotel geskenk. Van Sittert is reeds 13 jaar lank besig om katte van die Klein Karoo te versorg en huise vir hulle te vind en ook om rondloperkatte te laat steriliseer. Haar hulp is nie slegs tot katte beperk nie, sy verleen hulp aan enige dier wat oor haar pad kom.
Die skenking is direk in haar veeartsrekening by ’n plaaslike veearts inbetaal, wat sy gaan aanwend soos die nood bepaal.
“Dit is nou katseisoen, so een van die dae gaan daar baie klein katjies wees wat katmelk en ook kos gaan benodig.
“Die fondse wat Lamprecht en Meyer geskenk het, help ongelooflik baie veral omdat die poeiermelk wat ons in blikke aankoop vir die babakatjies baie duur is,” vertel van Sittert.
Oudtshoorn Diereherberg naby die diereskut, wat deur Ansa de Jager op die been gebring is, het ook ’n skenking van R3 000 ontvang. Sy het dit aangewend om hondekos te koop vir die sowat 80 honde wat in haar sorg is.
“Dit was wonderlik toe Lamprecht en Meyer my gekontak het om die nuus te deel dat hulle graag geld wil skenk vir hondekos. Ek het sommer dadelik kos gaan aankoop, ” vertel sy.
De Jager het in 2023 ’n nuwe perseel oorkant die Oudtshoorn diereskut opgerig waar die publiek vir die honde kan gaan kuier en ook kan aanneem. Van die 80 honde is daar ongeveer 20 in persone se sorg tot hul oud genoeg is om ook aangeneem te word.
Oudtshoorn Diereherberg help met die behandeling van diere in gevalle van nood, alhoewel hierdie nie ’n gratis diens is nie aangesien veeartse op die dorp gebruik word. Oudtshoorn Diereherberg is van skenkings uit die gemeenskap af-hanklik vir die voorsiening van kos aan die diere sowel as ander onkostes soos vervoer en salarisse van personeel by die herberg.
Lampies Lamprecht en James Meyer, van Lamprecht en Meyer, het aan Die Hoorn vertel dat daar deur die kantoor ’n behoefte geïdentifiseer is om diere in die Klein Karoo te help.
“Ons wou graag terugploeg in die gemeenskap,” vertel Lamprecht. Werknemers by die firma het voorgestel dat hulle twee diere-organisasies identifiseer en het toe besluit op The Cat Hotel en Oudtshoorn Diereherberg.
Met die skenking rig hulle die volgende uitda-ging aan ander besighede: “Ons wil met hierdie gebaar ander besighede van Oudtshoorn uitdaag om ook hande te vat met organisasies wat wonderlike werk in die Klein Karoo doen en skenkings te maak.”
Vir meer inligting oor Lamprecht en Meyer of om die uitdaging te aanvaar kontak hulle gerus by 044 272 7344, of besoek hul kantoor in St Johnstraat 133, Oudtshoorn. (ANGELIQUE ERASMUS)