Volgende week, van 15 tot 19 September is Testamenteweek waartydens testamente gratis opgestel word.
Testamente wat verouderd is of boedels waar geen testament is nie, kan ernstige nagevolge hê vir die erfgename van ’n oorledene.
In die geval waar iemand sonder ʼn testament sterf of ’n bestaande testament ongeldig is, word die boedel volgens wetgewing as intestaat beredder wat geweldige vertra- gings en administratiewe kopsere tot gevolg kan hê.
Dit is dus uiters belangrik om te verseker dat jou testament nie net geldig is nie, maar ook gereeld opgedateer word soos wat omstandighede verander.
Erflating kan in ’n groot twispunt onder families en gesinslede ontaard indien ʼn testament nie geldig is nie.
Juis daarom is ’n testament een van die mees noodsaaklike en onontbeerlike dokumente wat elke persoon moet laat opstel en ook gereeld moet laat hersien. ’n Geldige testament voorkom konflik aangesien dit ʼn presiese bepaling is van hoe bates verdeel moet word tussen erfgename.
Die testament kan ook bepaal wie die eksekuteur van die boedel moet wees. Dit is gewoonlik nie raadsaam om ’n familielid of kennis as eksekuteur aan te stel nie; raadpleeg eerder kundiges in die verband en laat dit in die testament aanteken .
Daar is talle slaggate waarin beland kan word indien testamente en boedelbereddering nie deur professionele kundiges han-teer word nie en ’n eksekuteur wat nie vertroud is met al die wetlike en voorgeskrewe reëls en implikasies nie, kan homself in ’n doolhof bevind.
Moenie uitstel nie, gebruik hierdie geleentheid om tydens die gratis testamenteweek jou sake in orde te kry en gemoedsrus aan jou geliefdes agter te laat. (HANNES VISSER)
