Lede van gemeenskapsorganisasies sowel as instansies wat sport- en ander geleenthede beplan kan bydraes lewer tot twee inisiatiewe wat deur die kantoor van die uitvoerende burgemeester, Johan Allers, van stapel gestuur is.
Die eerste geleentheid vind op Maandag 15 September om 14:00 in die nuwe raadsaal plaas om gebeurtenisse en byeenkomste vir September en Oktober te bespreek. Dit is ’n maandelikse samekoms en die burgemeester nooi alle gebeurtenisorganiseerders uit om die vergadering by te woon.
Veral verteenwoordigers van alle beplande September- en Oktober-geleenthede word dringend versoek om by te woon om samewerking en tydige beplanning vir ’n suksesvolle dorpskalender te verseker.
Die ander vergadering wat maandeliks deur die burgemeester gelei word, is die Sosiale Gemeenskapskomitee-vergadering op Woensdag, 17 September om 14:00 in die ou raadsaal by die munisipale kantore.
Hierdie komitee is ’n platform waar verteenwoordigers van sosiale diensorganisasies hande vat en beplan om oplossings te vind vir die uitdagings wat die gemeenskap in die gesig staar.
Die gesprekke fokus op dienslewering en lede van die gemeenskap word genooi om kwessies wat deur die komitee bespreek moet word, per e-pos aan die kantoor van die burgemeester te stuur by demorian@ oudtmun.gov.za vóór die vergadering. (HANNES VISSER)
Raak betrokke en deel voorstelle van gemeenskapsbelang
Die uitvoerende burgemeester van Oudtshoorn, Johan Allers.