Nadat daar twee weke gelede in Die Hoorn berig is dat die Joodse gemeenskap besig is met ’n projek om beskadigde grafte in hul begraafplaas te herstel, het Afriforum Buurtwag hulp aangebied met die beveiliging van die begraafplaas.
Dié buurtwag het verlede week ʼn samewerkingsooreenkoms met Bernard Herman aangegaan om die begraafplaas daagliks tydens sigbaarheidspatrollies te besoek.
Aangesien die begraafplaas ten alle tye gesluit is en vandale wat oor die muur klim, nie vir patrollies sigbaar is nie, het die buurtwag verlede week ’n sleutel tot die begraafplaas ontvang om vrylike toegang te verkry.
Dit sal die buurtwag en reaksie-span in staat stel om die terrein te betree vir inspeksies en om op te tree indien vandale opgemerk word.
AfriForum Buurtwag beskik tans oor 70 vrywillige patrollielede wat daagliks sigbaarheidspatrollies uitvoer, met ’n geskatte totaal van 2 500 km per maand.
Die stelsel sluit die SAPD en verskeie sekuriteitsmaatskappye in.
Die onderskeie veiligheidsgroepe het ongeveer 1 000 lede wat insidente kan aanmeld vir optrede deur die reaksie-groepe vir onmiddellike bystand.
Inwoners wat by die buurtwag wil aansluit kan Kol. Christo Cloete direk kontak by 064 891 8175. (HANNES VISSER)
Afriforum Buurtwag help met beveiliging van Joodse begraafplaas
James Tait (links) van die Noord-sektor en Donovan Kleinhans van AfriForum se Oudtshoorn-tak ontvang ’n sleutel vir die begraafplaas van Dalia Wilck. Foto verskaf