SPESIALE toegangsgelde by die Kango Grotte vir inwoners van die Groter Oudtshoorn tydens die Covid-19-tydperk, en die gebruik van die Grotte as ’n venue vir onder meer konserte, kunsuitstallings, troues en matriekafskeide. Dit is van die planne van die Groter Oudtshoorn se munisipale raad om dié ikoon te help om kop bo water te hou.
Die Kango Grotte sukkel sedert die aanvang van Covid-19 soos talle ander besighede om te oorleef. Dit word tans teen ’n verlies bedryf met inkomste wat gedaal het terwyl die vaste bedryfskoste steeds styg.
Luidens ’n persverklaring van die munisipaliteit het die munisipale raad by ’n spesiale raadsvergadering op 3 Mei ’n ekonomiese herstel- en omkeerstrategie vir die Kango Grotte aanvaar.
“Die doel hiervan is om te fokus op operasionele aangeleenthede en maatreëls daar te stel wat die Grotte se finansiële posisie kan omdraai om gelyk te breek of ’n klein wins te maak,” sê Chris Macpherson, burgemeester van Oudtshoorn.
“Ons is van plan om bedryfskoste te verminder, asook salarisse en na-uurse werk. Ons skenk ook aandag aan die huidige operasionele model van die Grotte en ondersoek die moontlikheid om ‘n munisipale entiteit te stig teenoor ’n departement in die munisipaliteit.
“Die Grotte-kompleks kort ook dringende opgradering waarvoor kapitaalfinansiering nodig is. Die raad het dus voorgestel dat alternatiewe bronne ondersoek word om die opgradering te finansier. ”
Daar is tans geen addisionele dienste by die Grotte nie met die kuriowinkel en restaurant wat toe is weens die pandemie en min toeriste wat die Grotte besoek.
Die raad het egter reeds begin gesprek voer met diensverskaffers en ondersoek maniere om addisionele dienste te verskaf wat aantreklik sal wees vir besoekers.
Met die omdraaistrategie sal die volgende moontlikhede ondersoek word om die Grotte se inkomste te verhoog:
• Hersiening van tariewe met ’n spesiale Covid-19-tarief wat dit toegankliker sal maak vir inwo-ners van die Groter Oudtshoorn wat nie huidige tariewe kan bekostig nie, en ook meer voete na die Grotte sal bring;
• Ontwikkeling van bekostigbare pakkette saam met ander toerisme-ondernemings vir individue, gesinne en groepe;
• Bemarking van die Grotte aan skole in die streek;
• Die beskikbaarstelling van die Grotte as ’n venue vir spesiale geleenthede soos konserte, musiek, kuns, troues en selfs musiekafskeide;
Die raad het egter met erkenning aan die sensitiwiteit van die Grotte vir menslike impak aangedui dat slegs funksies met minimale of geen impak goed-gekeur sal word en dat die impak van soda-nige funksies gemoniteer moet word;
• Bemarking van die Grotte aan toeriste op plaaslike, nasionale en internasionale platforms.
Die raad het ook besluit dat die Grotte se huidige trusteeraad en munisipale bestuur saam aandag moet skenk aan die herstelplan en datums vir implementering. (Deur Liesel le Roux)
Raad wil Grotte so help om kop bo water te hou!
Die Kango Grotte-kompleks teen die Swartberge in die distrik van Oudtshoorn, met die ingang na die Grotte reg agter die gebou. Foto verskaf
Die wonderlikste belewenis gehad met Passiespel wat daar opgevoer is.