Kannaland kry nuwe landdros

Landdros Dmitri Mitchell. Foto: Deon Meyer

“I AM not here to instill fear, I am here to instill confidence in the justice system”.

Dit is die woorde waarmee die 31-jarige nuwe landdros in Ladismith, Dmitri Mitchell, aandui dat hy om een bepaalde rede op die regbank sit: Die gemeenskap moet vertroue in die regstelsel hê en nie met vrees die howe benader nie.

Mitchell is ’n boorling van George, maar het saam met sy ouers na Brooklyn in Kaapstad verhuis, waar hy skoolgegaan en studeer het. Hy het in 2011 ’n B Com-graad verwerf waarna hy in inligtingstegnologie (bemarking) gewerk het totdat hy in 2012 sy LLB-graad verwerf het. Hierna het hy by McRoberts Prokureurs se Kaapstad-kantoor begin werk.

Hy het ook vyf jaar as advokaat by die Kaapse Balieraad gewerk, waar hy waardevolle ondervinding opgedoen het.

“My liefde vir die regstelsel het my hele bestaan gevorm.” Hy is in Februarie as landdros in Kaapstad aangestel voordat hy in Meimaand op Ladismith aangestel is.

Sy huidige posisie as hoof van die hof maak hom op 31 jaar die jongste persoon in die Wes-Kaap in die posisie, en moontlik in die land.

Mitchell sê hy glo dat daar wedersydse respek in die regstelsel moet bestaan en sal hy graag elke persoon met respek wil behandel.

“Mense moet bewus wees dat hulle nie sonder ’n regsverteenwoordiger hoef te verskyn nie. Indien ’n persoon sou verkies om sonder ’n prokureur te verskyn, moet dit suiwer sy keuse wees,” sê Mitchell.

“Ek wil dit ook duidelik stel dat ek bereid is om te leer en te groei in my posisie. Ek is beslis nie alwetend nie,” voeg die nederige Mitchell by.

“Ons moet ook begin kyk na hoe toeganklik vervoer is vir byvoorbeeld mense van Vanwyksdorp of byvoorbeeld Zoar. Iemand wat kan bewys dat hy nie vervoer na Ladismith op hofdag kon kry nie, behoort nie summier vir minagting van die hof aangekla te word nie. Die moontlikheid om die hof ten minste een keer ’n maand of kwartaal na hierdie afgelëe gebiede te neem, behoort ondersoek te word,” sê hy.

Volgens Mitchell het hy ’n baie goeie kantoor van sy voorganger, landdros Marius Nel, geërf en is die kantoorpersoneel dinamiese mense met wie hy graag ’n lang pad wil stap. (Deur Deon Meyer)

2 Comments on "Kannaland kry nuwe landdros"

  1. Hi mnr deon ek mut se dat cbl begin nou in plek val wa ons mense beginning die lig sien soos x vi Michel sien gan cbl n goeie kombinasie maak op n lang termyn dus my tormenting.

  2. Cheryl Delport- Crowie | 05/15/2021 at 14:33 |

    Welgedaan Edel Agbare,ons wens jou baie suksesvolle en selfvervullende hofsake, positiewe lewensveranderende eind resultate. Mag, soos jy verlang, dat die gemeenskap jou, en die hof Sal respekteer en met vryheid Sal Nader vir oplossings.
    Moet nooit vergeet Waar jou krag vandaan Kom nie. God’s rykste seen.

Comments are closed.