Begin nou saam hekel aan ReWOLusie se pragtige kombers!

DIE eerste twee dele van ’n hekelpatroon vir ’n pragtige kombers wat spesiaal vir die ReWOLusie se hekel-saam-veldtog ontwerp is, is reeds beskikbaar en kan nou by www.kknk.co.za/afr/rewolusie/ afgelaai word.

Die patroon is deur die Oudtshoorniet Bets Wilkinson ontwerp.

’n Deel van die hekelpatroon word tot einde Julie oor 13 weke elke Maandag op die KKNK se webblad vrygestel.
Op die webblad is ook inligting oor alles wat jy moet weet en bymekaarmaak voordat jy begin, kleurkombinasie-voorstelle, video’s van al die steke wat jy gaan gebruik, wenke en foto’s.

“Dié plaaslike hekel-en-brei-projek, ReWOLusie, het vanjaar ’n nasionale voetspoor danksy die hekel-saam-veldtog,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK. “Hierdie ini-siatief stel alle Suid-Afrikaners in staat om deel te neem, met meer komberse as ooit tevore wat warmte aan behoeftiges in die koue wintermaande sal gee.”

Volgens Theart en Madeleine Miles, projekleier van ReWOLusie, hoef deelnemers nie bang te wees om betrokke te raak nie.

“Ons gaan jou help om deel te neem. Beginners word stap-vir-stap met soveel moontlik bronne gehelp. Ervare hekelaars se kreatiwiteit kan vlerke kry. Hou in gedagte dat hierdie die eerste projek van sy soort is en ons ook baie gaan leer. Nie een van ons is professionele patroon-skrywers nie. Stel ons asseblief dadelik in kennis as ons iets iewers gemis het. Daar gaan ook elke week lekker op sosialemedia-platforms gesels word, waar ons vir mekaar raad kan gee en foto’s van ons vordering plaas,” sê Miles.

Hekelaars kan hul eindproduk hou, of as geskenk aan iemand gee. Die kombers kan ook aan die KKNK geskenk word om op Vrouedag (9 Augustus 2021) opgeveil te word, met die opbrengs wat aangewend sal word vir projekte wat vroue van Oudtshoorn sal bemagtig.

As jy nie kan hekel nie, of nie die tyd of geduld het om die kombers te hekel nie, kan jy ’n skenking van R1 800 oorweeg wat iemand anders sal help om die pragtige kombers te hekel. Wolskenkings is ook baie welkom.

“ReWOLusie gaan oor mense en deel,” sê Miles. “Ons deel gesprekke, stories, hartseer, blydskap – en natuurlik komberse.

Ons wil met hierdie projek soveel mense moontlik betrek, dit gaan nie net oor die kuns van hekel nie, maar ook oor die kuns van menswees.”

Almal word uitgenooi om deel te word van die ReWOLusie-familie. ReWOLusie is ook vanjaar weer een van die vennote van die 67 Blankets for Madiba-veldtog.

• Voordat deelnemers die eerste twee dele van die patroon kan aflaai, moet hulle vir die nasionale hekel-saam-veldtog registreer by Daleen Witbooi (044 203 8600) / info@kunste.org.za / www.facebook.com/rewolusie.