Die uitstaande skuld van R315 378 wat deur die CP Nel Museum aan die munisipaliteit verskuldig is, is Dinsdag tydens ’n raadsvergadering afgeskryf.
Hierdie was die laaste deel van bykans R1 miljoen aan uitstaande dienstegeld wat tydens die vorige bestuur van die museum opgeloop het.
’n Bedrag van meer as R600 000 is reeds by ’n vorige vergadering afgeskryf.
Raadslid André Barnard (OGI) het die item voor die raad gebring en as motivering verduidelik van watter groot belang die museum nie net as toeristebestemming is nie, maar ook ʼn belangrike deel van Oudtshoorn se kultuurerfenis vorm.
Hy het verduidelik dat alhoewel die museum van provinisale befondsing afhanklik is, dié befondsing bykans R7 000 per maand te min is vir die normale bedryfskoste van die museum en nie naastenby genoeg is om die gebou, wat aan die munisipaliteit behoort, te onderhou nie.
Raadsheer Chris Macpherson (DA) het die voorstel gesteun alhoewel hy tydens die vorige raadsvergadering in ’n bespreking oor die aangeleentheid wat in komitee geskied het, hewig gekant was teen die afskrywing van die geld.
Tydens Dinsdag se vergadering het Macpherson egter gesê na deeglike samesprekings met lede van die museum se raad van trustees asook met raads-lid Barnard, wat die voorsitter van die finansiële komitee is, het hy die benarde en onderbefondsde penarie van die museum verstaan en die voorlegging om die skuld af te skryf, ondersteun.
Raadsheer Vlancio Donson (ICOSA) het gevra dat die raad toegang kry tot die museum se finansiële state om hulle te vergewis van die situasie.
Verskeie ander voorstelle oor die lewering van dienste aan die museum teen geen koste en die voorwaardes daaraan verbonde is ook bespreek.
Die speaker, Suzane Jansen (PA), het na afloop van insette die raadsbesluit bevestig dat die skuld afgeskryf word en dat ʼn nuwe huurkontrak tussen die munisipaliteit en die museum opgestel word wat al die voorwaardes wat tydens die raadsvergadering voorgelê is, sal bevat.
Die ondervoorsitter van die raad van trustees van die CP Nel-museum het die vergadering in die openbare galery bygewoon en na afloop van die vergadering haar dank oor die besluit uitgespreek.
Sy is deel van ’n groep vrywilligers wat sedert verlede jaar hard gewerk het om die museum se deure weer oop te kry en oop te hou nadat bykans R2 miljoen wat oor jare deur die Vriende van die CP Nel-museum in ’n rekening bymekaargemaak is, tydens die vorige bestuurder se termyn verkwis is. (HANNES VISSER)
Raad skryf skuld van CP Nel museum af
Die raadsvergadering waartydens Dinsdag eenparig besluit is om die museum se skuld af te skryf. Foto’s: Hannes Visser