Jimny’s breek wêreldrekord

Bo: Lugfoto van Jimny’s by Louvain Gasteplaas. Foto: Verskaf Onder: Amptelike oorhandiging van die sertifikaat deur Glen Pollard van Guinness World Records aan Brendon Carpenter, Handelsmerkbemarkingsbestuurder SUZUKI AUTO SUID-AFRIKA (Links). Schalk Bezuidenhout (regs) het as seremoniemeester opgetree. Foto: Jimny Gathering Facebookblad Onder: Bo: Die “Silent Disco” op Vrydagaand was hope pret gewees. Foto: Jimny Gathering Facebookblad

Jimny’s sover die oog kon sien. Vrydag 26 September en Saterdag 27 September was daar Suzuki Jimny’s van elke kleur en geur, oud en nuut, standaard en opgebou om selfs die grootste berge aan te pak.

Die versamelpunt was Louvain Gasteplaas, sowat 50 km buite Oudtshoorn. Tesame met die wêreldrekordpoging om soveel moontlik Jimny’s op een slag hul deure toe te maak, was daar ’n aksie belaaide tyd by Louvain gewees.

Vrydag 26 September was daar ’n “silent disco”. Elke gas kon kies watter tipe musiek hulle graag wou luister, en het groen, blou of rooi oorfone gekry wat die genre musiek van hul keuse speel.

Op Saterdag voor die rekordpoging was daar ’n “skoonheidskompetisie”. Die kategorieë wat Jimny’s voor kon inskryf was “trailblazer”, “globetrotter”, “showstopper”, “Big personality” en “Heritage Hero”. Gaan kyk gerus na die video van die oulike Jimny’s op Die Hoorn se Facebookblad.

Daar was ’n gelukkige trekking met pryse ter waarde van R30 000 en elke Jimny wat die dag bygewoon het, is outomaties ingeskryf vir die lekker prys.

Die groot oomblik het om 12:15 plaasgevind en die wêreldrekord is amptelik gebreek.
Daar het 1 127 Jimny’s het hul deure gelyk toegemaak en in totaal is 1 838 deure op een slag toegemaak. Ander fabrikaat motors was genooi om ook deel te neem aan die poging.

“Dit was vir ons hier by Louvain ’n wonderlike ervaring gewees en ons is trots om deel te kon wees van hierdie wêreldrekord. Ek wil ook vir my fantastiese span by Louvain dankie sê vir hulle harde werk en dat hul elke besoeker welkom laat voel het,” vertel Morné Jonker, eienaar van Louvain.

Die bekende komediant, Schalk Bezuidenhout het as seremoniemeester hier opgetree, asook by die musiekfees Safari Town, ook deur Suzuki aangebied op Oudtshoorn later die middag. (ANGELIQUE ERASMUS)

Bo: Morné Jonker, eienaar van Louvain Gasteplaas waar die Jimny bymekaarkoms plaasgevind het saam met Schalk Bezuidenhout. Foto verskaf