R50 miljoen en voorwaardes van drie grondeienaars vertraag Blossomsprojek

Water spuit by die Blossoms-boorgat uit. Foto’s: Hoorn-argief

DIE R100 miljoen-projek om ’n noodwaterpyplyn tussen die diepwaterboorgate by Blossoms na Oudtshoorn te lê, het sy halfpadmerk bereik.

Met R50 miljoen van die fondse wat die Departement Water en Sanitasie (DWS) vir dié droogte-projek bewillig het, is die ontwerp van die pyplyn gedoen, die meeste van die materiaal gekoop wat nodig is (pype en pompe) en die eerste 6 km daarvan in Mei vanjaar voltooi. Die departement se voorwaarde was dat die fondse voor die einde van die 2021-boekjaar wat einde Junie verstryk het, gebruik moes word.

Daar is egter tans twee struikelblokke wat die voltooiing van die noodpyplyn pypkan.

Struikelblok 1: Nog R50 miljoen nodig vir projek
Die oorblywende R50 miljoen vir die voltooing van die pyplyn moet nog gevind word.

Volgens Chris Swart, senior bestuurder water en riool by die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit, hoop hulle dat die Departement Water en Sanitasie of andersins die Wes-Kaapse Regering sal help met van die befondsing waarmee die pyplyn voltooi moet word.

Swart sê ’n aansoek vir die fondse wat die munisipaliteit in Mei aan Nasionale Tesourie gestuur het vir befondsing uit hul begrotingsfasiliteit vir infrastruktuur was onsuksesvol.

Struikelblok 2: Drie grondeienaars stel voorwaardes vir pyplyn
Ooreenkomste dat die noodpyplyn oor hul grond opgerig kan word, kon volgens Swart nog nie met drie grondeienaars bereik word nie.

Een het aangedui dat hy slegs sal instem as 200kl water elke maand gratis aan hom voorsien word. Die oorblywende twee vra vir addisionele vergoeding bo en behalwe die betaling vir die serwituutgebied. Hulle grond hul eis op die ongerief en moontlike verlies aan inkomste van hul ondernemings as gevolg van die pyplyn, boorgate en reservoirs op hul eiendom.

Dit volg nadat dokumente vroeër vanjaar op sewe grondeienaars bedien is om die munisipaliteit toegang te gee tot hul grond. Vier het hierna toestemming gegee, waarna die eerste ses km van die pyplyn gelê is op die gedeeltes waar ooreenkomste bereik is asook grond wat aan die munisipaliteit of die regering behoort.

Die proses om ’n hofuitspraak te kry oor die grond van die drie eienaars wat weier, het reeds begin. Volgens Swart word voorsien dat die finale kennisgewing ingevolge Skedule 2 van die Waterwet binnekort aan die drie grondeienaars beteken sal word. Die Waterwet erken Suid-Afrikaners se reg van toegang tot basiese waterverskaffing en die verantwoordelikheid van die regering om basiese water aan inwoners te verskaf.

Sou die drie grondeienaars die finale kennisgewings verder teenstaan, sal ‘n hof­aansoek ná 14 dae ingedien word (dws middel Augustus 2021).

Skedule 2 handel onder meer oor prosedures vir die registasie van serwitute.

Geskiedenis van die Blossoms-droogteprojek
Die oorspronklike werk aan die Blossoms-diepwaterprojek het in die vroeë 2000’s begin. ’n Nooddroogteprojek is in 2018 van stapel gestuur. Die doel hiervan is om bestaande eksplorasieboorgate te gebruik om tydens die droogte via ’n pyplyn water na Oudtshoorn te bring.

Die totale projekkoste vir dié droogteprojek word op R100 miljoen geraam.

• Die R50 miljoen wat van die Departement Water en Sanitasie ontvang is, is teen einde Junie 2021 bestee.

• Al die pypmateriaal is teen die begin van Desember 2020 bestel en by die munisipaliteit afgelewer.

• ’n Groot gedeelte van die meganiese toerusting is in Mei 2021 by die munisipaliteit afgelewer. Die installering daarvan sal plaasvind sodra die pyp­leiding voltooi is.

• Die siviele kontrakteur is aangestel om te begin met die installering van ’n gedeelte van die pyp­lyn met die balans van die fondse (R14 miljoen) ná die aankoop van die materiaal. Die terrein is einde Desember 2020 aan hom oorhandig. Die konstruksie het in Februarie 2021 begin en was einde Junie 2021 voltooi. Die span van die kontrakteur is tans besig met die skoonmaak en voltooiing van klein uitstaande items. (Deur Liesel le Roux)

1 Comment on "R50 miljoen en voorwaardes van drie grondeienaars vertraag Blossomsprojek"

  1. Hannes Calitz | 08/03/2021 at 14:04 |

    Interessante artiekel. Ek sou graag meer wou weet van die projek bv. meer oor die geohidrologie en die ligging van die boorgate.

Comments are closed.