Strafbare manslag ondersoek na voetganger sterf

Die toneel in ’n woonbuurt in Gumtreestraat op Oudtshoorn waar Leon Kiewiets Vrydag deur ’n voertuig getref is en kopbeserings opgedoen het. Kiewiets is later die dag oorlede. Foto: Stefan Skapie Goosen

DIE Oudtshoorn Polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag nadat ’n 50-jarige man van Bridgton Vrydag (23 Julie) deur ’n voertuig getref is en later aan sy beserings beswyk het.

Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, is Leon Kiewiets omstreeks 12:55 op die hoek van Poplar- en Gum­tree­straat raakgery.

“Die bestuurder van ’n wit Isuzu-bakkie het uit Poplarstraat in Gumtreestraat ingedraai en die voetganger raakgery,” het sy gesê.

Kiewiets is met kopbeserings hospitaal toe geneem waar hy later die dag oorlede is.

Leonie Pick, Kiewiets se suster, sê sy het steeds geen idee hoe die ongeluk gebeur het nie.

“Iemand het my die dag gebel net toe die ongeluk gebeur het, verder weet ek niks nie,” het sy aan Die Hoorn gesê.

Duidelik hartseer, met woorde wat moeilik wou uitkom, het Pick gesê sy sal haar broer onthou as ’n saggeaarde, liefdevolle mens wat altyd ander gehelp het waar hy moontlik kon.

Kiewiets was nie getroud nie, en het volgens Pick geen kinders nie.

’n Roudiens sal Saterdag by sy huis gehou word, waarna hy ter ruste gelê sal word. (Deur Stefan Skapie Goosen)