Pyplyn belangrik, sê grondeienaars, maar…

DIE grondeienaars oor wie se grond die Blossoms-noodpyplyn gaan loop, stem saam dat dit belangrik is dat water van die Blossomsboorgate by die mense van Oudts­hoorn moet uitkom.

Terselfdertyd is hulle egter jammer dat hulle nie oor die laaste paar jaar daarin kon slaag om met besluitnemers by die munisipaliteit te praat oor die impak van die Blossomsprojek op die veiligheid van mense, asook die impak daarvan op die omgewing, en die wild- en toerismebe­drywe op die grond nie.

Dit is die mening van dr Anton von Below, voorsitter van die Kliprivier-oewer­eienaarsvereniging wat op 20 April 2019 gestig is om met die Oudtshoorn Munisipaliteit oor die impak van die projek op die betrokke plase te onderhandel.

Die grondeienaars oor wie se grond die grootste deel van die pyplyn sal loop, het volgens Von Below reeds ooreenkomste met die munisipaliteit gesluit wat die munisipaliteit toelaat om op hul grond te kom en boorgate daar te sink.

Ooreenkomste oor die lê van die pyp­lyn oor hul grond is egter nog nie tussen drie grondeienaars en die munisipaliteit bereik nie.

“Ons is tevrede met die pyplyn en waar hy loop,” sê Von Below, “maar daar is gesprekke wat tussen van die grondeie­naars en besluitnemers by die munisipaliteit gevoer moet word oor aspekte soos die veiligheid en reg tot privaatheid van mense wat op die plase woon en besoekers wat op die plase kom oorbly – aangesien die pyplyn, pompstasies en re­servoirs altyd toeganklik sal moet wees.”

Die pyplyn loop byvoorbeeld op plekke reg langs huise en buitegeboue verby.

Von Below, wat gereageer het op ’n be­rig wat verlede week in Die Hoorn ver­skyn het, sê die indruk dat grondeienaars die projek vertraag het, is nie korrek nie.

“Ons vra al twee of drie jaar vir ge­sprek­ke om ons bekommernisse met be-sluitnemers te kan bespreek. Ons wil net billik behandel word.”

Van die grondeienaars is ook bekommerd dat die pyplyn die toerismebe­dryf en die teël van wild ’n ernstige en permanente finansiële knou sal toedien. Toe­ris­me en die teël van wild is twee van die be­langrikste aktiwiteite op die plase waar die grootste deel van die pyplyn gelê sal word.

“Ons kan nie toelaat dat die grond sonder billike vergoeding deur serwitute van ons ontneem word nie,” sê Von Below.

’n Grondeienaar wat gevra het om ano­niem te bly, sê hy is baie bekommerd dat honderde permanente en tydelike werkers in die wild- en toe­rismebedryf op die pla­se nie meer ’n inkomste sal kan verdien as die impak van die pyplyn op dié twee bedrywe nie oordeelkundig en billik aangespreek word nie.

“Uit die geledere van die oewer­eie­naars betrokke by die toerismebedryf word daar byvoorbeeld tans ’n sopkombuis gefinansier wat twee keer weekliks kos aan meer as 300 mense gee. Dit kan tot stilstand kom as dié bedryf nie meer kan voortgaan nie. Ek is bekommerd dat mense hul in­komste wat baie monde moet voed, gaan verloor.”

Volgens dié grondeienaar steun die oe­wer­eienaars die pyp­lyn.

“Ons is nie teen die pyplyn gekant nie. Ons glo net die kwes­sie moet op die regte manier hanteer word. Ons is ook dank­baar dat ons ’n waterpunt vanaf die pyp­lyn sal kry en water sal kan koop teen dieselfde tariewe as Oudtshoorniete. Dit sal veral help in droë tye.”

Die Hoorn het verlede week berig dat die munisipaliteit met ’n regsproses begin het vir ’n hof­uitspraak oor die grond van drie eienaars met wie die munisipaliteit nog nie ooreenkomste kon bereik nie.

Dit behels die betekening van finale kennisgewings ingevolge Skedule 2 van die Waterwet aan die grondeienaars. Sou die grondeienaars dit teenstaan, sal ’n hof­aansoek ná 14 dae ingedien word.

Volgens Von Below is van die boere in gesprek met ’n regsadviseur. (Deur Liesel le Roux)