Na moord ook skok van graf vol water

Die graf vol water. Foto verskaf

DIE moord op Candice Potgieter (19) van De Rust op Sondag 25 Julie was die eerste skok wat haar familie moes verwerk.

Toe hulle haar die afgelope naweek moes begrawe, het hulle gevind die graf waarin sy begrawe moes word, is vol water.

Dit was vir hulle ’n tweede trauma, sê ’n oom van Candice, Jacobus Goliath. Volgens kapt Gert Fourie van die De Rust Polisie is Candice die aand van 25 Julie na bewering deur ’n gewese vriend van haar in Blomnek met ’n mes gesteek.

Goliath het Die Hoorn vandeesweek genader en sê hy was Saterdagmiddag laat by die De Rust Begraafplaas om te kyk of alles reg was vir die begrafnis Sondag. Die graf was egter vol water.

Hy het die water uit die graf geskep. “Sondag­oggend dou voor dag moes ek en my seuntjie en sy vriend weer water uit die graf skep.”

Volgens hom is die familie baie ontsteld dat so ’n graf aan hulle beskikbaar gestel is. Omdat die begrafnis egter vir Sondag by ’n begrafnisondernemer geskeduleer was, moes hulle voortgaan.

Die munisipaliteit het Dinsdag dadelik op ’n navraag van Die Hoorn gereageer en gesê die hoof van die afdeling waaronder die begraafplase val, Zouwe Lesia, was nie bewus van die voorval nie maar wil dit graag ondersoek. Volgens die munisipaliteit dui die feit dat die graf met stene binne uitgelê is, daarop dat die graf vroeër droog was.

Die Hoorn het haar kontakbesonderhede aan Goliath verstrek. (Deur Liesel le Roux)