Covid-gevalle styg terwyl inwoners jol

Die foto is Saterdag by die Vlakkiekrieket se eindstryd in Bridgton geneem. Foto verskaf

TE midde van die styging in positiewe Covid-19-gevalle op Oudtshoorn, het talle inwoners van die dorp die afgelope naweek oënskynlik Vlak 3-re­gulasies verontagsaam om saam te kuier, ’n drankie te geniet en sport te kyk.

Talle inwoners het sedert die naweek op Facebook gekla oor hoe ander inwoners Covid-regulasies verbreek het. Volgens oproepe, boodskappe en Facebook-inskrywings van inwoners het honderde mense die naweek op straat in Bridgton en Bongolethu gekuier – sonder maskers, sonder die handhawing van sosiale afstand, na die aandklokreël, en glo selfs met drank.

Van dié inwoners sê hulle is bekommerd dat Covid-19-regulasies nie nagekom is nie. Daar word ook telkemale vrae gevra oor waarom die polisie of wetstoepassers nie opgetree het nie. Hulle verwys onder meer na die volgende plekke of geleenthede:

• Vlakkiekrieket, Sondag 1 Augustus: Volgens inwoners se boodskappe en inskrywings was daar honderde mense by die eindstryd van die vlakkie­krieketreeks die naweek wat op ’n oop stuk grond langs die Bridgton Kliniek en om die draai van die Bridgton Polisiekantoor plaasgevind het. Die beperking op die aantal mense wat tydens Vlak 3 buite mag byeenkom, is 100.

Moses Jackson skryf by ’n foto van die eindstryd op Facebook: “Vandag se Vlakkie­krie­ket­finaal. Kan nie onthou dat ek al soveel mense by ’n krieketwedstryd in Oudtshoorn gesien het nie. Seker goed vir plaaslike krieket, maar regtig, eers ná Covid-19, of ná meer mense gevaksineer is. Verlede week se data wys dat as jy Covid in Oudtshoorn opdoen, het jy ten minste ’n tweekeer groter kans het om te sterf as diegene in George, Mosselbaai of Knysna. Daarby is al die ICU-beddens in die Wes-Kaap meer as 100% vol.”

Japie Coetzee skryf op Facebook: “Die plaaslike Covid-span behoort hierdie byeenkoms te ondersoek. Almal wat daar was, behoort 10 dae in isolasie te gaan en vanaf vandag nie na skole en werksplekke te gaan nie, of eers ’n Covid-toets te ondergaan. Die president verwys gereeld na sulke byeenkomste as plekke waar die virus versprei word. Die organiseerders behoort ook ’n lys van almal, met adresse en telefoonnommers aan die polisie te voorsien…”

Beverly Safers het Coetzee se kommentaar ondersteun en gesê: “Ek was daar. My oge hettit gesien… Dit was vreesaanjaend.”

• Daar is volgens inwoners ook by ’n karwas naby die Plate in Bridgton groot getalle mense bymekaar gesien, wat na bewering selfs gedrink het. Ook hier is na bewering geen maskers gedra of sosiale afstand gehandhaaf nie.

Jacobus Botha skryf, nadat hy verby dié spesifieke karwas gery het: “…Joh, mens kan skaars daar ry, so vol is dit. Is dit ’n tavern of was hulle karre daar? Dis verbasend hoe mense nie die reëls gehoorsaam nie, tot jy eers ’n familielid afstaan aan die hand van Covid.”

• Inwoners het ook hul kommer uitgespreek omdat mense op straat in veral Bridgton en Bongolethu nie maskers dra nie, geen veilige sosiale afstand toepas nie, drink, en ná die aandklokreël op straat rondloop of in groepe bymekaarkom.

Burgemeester: Verontagsaming van Covid-19-protokol is teleurstellend en selfs lewensgevaarlik
In reaksie het die Groter Oudtshoorn se burgemeester, Chris Macpherson, sy teleurstelling in Oudtshoorniete se verontagsaming van Covid-maatreëls uitgespreek.

“Ons inwoners se houding jeens die Covid-19-protokol is teleurstellend en selfs lewensgevaarlik. Die totale miskenning daarvan deur ’n meerderheid mense wat nie maskers in die openbaar dra nie en versuim om sosiale afstand te handhaaf, is die rede waarom die Groter Oudtshoorn die hoogste persentasie-sterftesyfer het. Die polisie en wets­­­toe­passers sal stappe neem om sy inwoners te beskerm. Dossiere is geopen om die flagrante min­agting van die Wet op Rampbestuur tydens die Vlakkie-krieket die naweek te ondersoek.” .

Macpherson het weer eens ’n beroep op elke individu gedoen om te verseker dat almal met wie hulle in aanraking kom, saamwerk om die dorp ’n veilige hawe te maak.

Die Oudtshoorn Polisie en Suid-Kaap Polisie het teen druktyd nie op navrae van Die Hoorn gereageer nie.

Volgens Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoer­der van die munisipaliteit, is die primêre taak van wetstoepassingsbeamptes die toepassing van munisipale verordeninge en is daar tans ’n mannekragtekort. “Wetstoepassers is daar om die polisie te ondersteun wat ook tans ’n groot mannekragtekort het.”

Mangqwengqwe het inwoners daaraan herinner dat die Polisie kantore in Oudtshoorn (dorp), Bridgton, Bongolethu, Dyssselsdorp en De Rust het. “Die munisipale wetstoepassers help gereeld en hulle (Polisie) moet leiding gee sodat ons die probleme gesamentlik kan aanspreek en oplos.”

• Facebook-inskrywings is geredigeer ten opsigte van taalgebruik of verkort vir leesbaarheid. (Deur Stefan Skapie Goosen)