HOSPITALE en mediese personeel op Oudtshoorn is vandeesweek onder erge druk met ’n styging in Covid-19-gevalle op die dorp.
Volgens Hannes Stegmann, algemene bestuurder van die Mediclinic Klein Karoo, is beddens vir pasiënte, beskikbaarheid van suurstof asook die mediese personeel daar onder druk. Hy het Dinsdag gesê dat die hospitaal egter nog die druk kan hanteer.
Nadia Ferreira, woordvoerder van die Departement Gesondheid in die Tuinroete Distrik, sê al die staatshospitale in die streek is onder druk terwyl opnames van pasiënte styg.
Daar is daagliks tussen 20 en 26 pasiënte in die Oudtshoorn Hospitaal wat positief vir Covid-19 getoets het met meer as 50% van pasiënte wat suurstof ontvang (nie ventilators nie). Volgens Ferreira plaas dit redelike groot druk op die aantal beskikbare beddens.
Gister was daar 25 Covid-19-pasiënte in die hospitaal.
“Die toetstent by die hospitaal is ook baie besig. Op 2 Augustus byvoorbeeld is 70 Covid-19-toetse daar gedoen.
’n Mediese dokter van die dorp, dr Wessel Vermeulen, het die week ook sy kommer uitgespreek oor die toename in Covid-19-gevalle en die druk wat dit op hospitale en mediese personeel plaas.
Volgens hom is die persentasie positiewe toetse hierdie keer veel hoër as tydens die eerste twee vlae en lyk dit of die Delta-variant baie meer aansteeklik is.
“Daar is baie meer jonger mense wat positief toets met heelwat van die jongmense uit die 14 tot 30 jaar-groep.
“Dit is ook darem so dat mediese personeel Covid-19-gevalle nou vinniger en makliker herken en vroeg diagnoseer.”
Vermeulen sê hy het groot dank en waardering vir die onverpoosde, onbaatsugtige, opofferende en positiewe gesindheid van personeel van beide hospitale en die klinieke op Oudtshoorn wat hul werk daagliks onder gevaarlike blootstelling doen.
“Party van hulle is nog blote kinders wat elke dag op die voorgrond van die hartseer, pyn en lyding van pasiënte staan en lewensreddende leiding moet neem.
“Ook die uiters professionele wyse waarop die inentingsveldtog op Oudtshoorn hanteer word, verdien lof. Daar is uit alle oorde of vir die vriendelike hulpvaardigheid elke dag. Oudtshoorn kan trots wees op sy mense – baie van hulle het nou die dag nog hier op die skoolbanke gesit.”
Elders in die Tuinroete
Ook elders in die distrik gaan die moeilik.
Volgens Kassie Karstens, hospitaalbestuurder van die Mediclinic George en Geneva op George, ervaar hulle baie druk ten opsigte van bedbesetting. “Ons hou styf duime vas dat die kurwe sal begin afplat in die volgende twee weke. Ons personeel is moeg, maar hou nog moed. Dankie vir almal se gebede!”
Ferreira sê onder die staatshospitale is veral die George Hospitaal onder erge druk met 84 Covid-19-pasiënte, waarvan 22 in die hoësorgeenheid is.
“Die Harry Comay Hospitaal, ’n oorgangsfasiliteit vir die George Hospitaal wat nou 24 pasiënte het, bly ook onder druk.
Daar is egter genoeg suurstof in al die hospitale.”
Daar was teen Maandag 5 974 aktiewe Covid-19-gevalle in die distrik na ’n styging van 3 003 gevalle die afgelope week. George het die meeste aantal aktiewe gevalle per 100 000 mense met Mosselbaai tweede. Die totale aantal Covid-19-gevalle in die distrik was gister (Woensdag) 51 300.
24 dood binne 10 dae op Oudtshoorn
Covid-19 het die lewens van 24 mense tussen Maandag 26 Julie en Woensdag 5 Augustus in die Oudtshoorn-distrik geëis, met die dodetal wat van 333 tot 357 gister geklim het. In Kannaland het twee inwoners in die 10 dae gesterf met die dodetal in dié munisipaliteit wat van 55 tot 57 gestyg het.
Aktiewe gevalle op Oudtshoorn het van 389 verlede Maandag (26 Julie) tot 453 Woensdag (3 Augustus) geklim. Met talle mense wat siek word met Covid-19-simptome en wat nie getoets word nie, is die aantal gevalle waarskynlik hoër.
Inentings die week
Die Tuinroete Distrik het vandeesweek minder entstof van die nasionale regering ontvang as waarop gehoop is. Daar word egter Volgens Ferreira agter die skerms gewerk om meer entstof te bekom aangesien daar ’n hoë aanvraag onder inwoners is. (Deur Liesel le Roux)
Erge druk op dorp se hospitale
