Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, en ministers Tertuis Simmers (infrastruktuur) en Anton Bredell (plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkeling) het Donderdagaand sowet 100 inwoners toegespreek.
Tydens die geleentheid het Winde sy kommer gedeel met die huidige situasie in Knysna waar dele etlike weke sonder water sit en vullisverwydering bykans tot stillstand gekom het in sekere dele. Hy het gesê dat onstabiele regering in dorpe dienslewering geweldig negatief beїnvloed en inwoners daardeur erg benadeel word.
“Dit is reeds bewys dat dorpe in die Wes-Kaap waar ’n stabiele plaaslike regering aan bewind is baie beter vaar as dorpe waar koalisies aan bewind is.”
Hy het ook daarop gewys dat mense hulle demokratiese reg om te stem moet gebruik. Met verwysing na die plaaslike verkiesings wat in 2026 gehou word, het hy gesê dat die stempersentasie drasties moet verhoog teen die vorige verkiesing.
Tydens ʼn vraag-en-antwoordsessie het minister Bredell die premier se boodskap bevestig toe hy gevra was waarom daar nie by dorpe soos Knysna, Kannaland en Oudtshoorn ingegryp word as dit blyk dat daar probleme is nie.
“Onthou, plaaslike regering is ’n onafhanklike sfeer van regering. Net soos wat die nasionale regering nie sommer net by die Wes-Kaap se regering kan ingryp nie, kan die provinsiale regering ook nie by plaaslike regering instap en veranderinge aanbring nie. Die kiesers moet sorg dat hulle hul stemreg gebruik om die regte mense te verkies, dit is hoe demokrasie werk.”
Simmers het op sy beurt vrae oor infastruktuur en behuising beantwoord en ook klem daarop gelê dat inwoners deur hulle stemme moet sorg dat ver-antwoordelike en kundige mense verkies word.
Hy het ook die besluit van die provinsie om paaie wat tans onder die distriksmunisipaliteit val, terug te neem opgeklaar. Hy het verduidelik dat die paaie nog altyd aan die provinsie behoort het, maar dat die distrik dit namens die provinsie teen betaling bestuur het. “Dit beteken basies net dat die provinsie nou weer direkte beheer oor die paaie neem, maar dit het geen werksverliese tot gevolg nie, het hy verseker.”
Die besoek van die premier en verskeie ander ministers aan die Suid-Kaap was deel van ’n projek waartydens hulle dorpe in die Wes-Kaap besoek het, na infrastrukktuur en dienste gekyk het en ook fietse aan skole oorhandig het. Van die ministers het self ook per fiets deur die verskillende dorpe gery. (HANNES VISSER)
Premier en ministers besoek Oudtshoorn
Wes-Kaapse premier, Alan Winde, spreek ’n groep inwoners toe op Donderdag 15 Mei. Foto verskaf