Ou sementpad nou spogpad

Die provinsiale minister van infrastruktuur, Tertuis Simmers en Kannaland se burgemeester, met Jeffrey Donson open die pad op Vrydag 16 Mei. Links van hulle is Werner Meshoa (raads-lid) en Adv Dillo Sereo, munisipale bestuurder aan die regterkant. Foto onder: ’n Gedeelte van die nuwe pad tussen Oudtshoorn en Calitzdorp. Foto’s: Hannes Visser

Die provinsiale minister van infrastruktuur, Tertuis Simmers, het Vrydagoggend 16 Mei die splinternuwe teerpad tussen die R62 en Calitzdorp geopen.

Die oorspronklike sementpad wat in 1951 voltooi is, is heeltemal opgebreek en vervang. Die waarnemende direkteur van operasionele ondersteuning, Jandré Bakker het verduidelik dat die betonblaaie wat die padoppervlak gevorm het, opgebreek en herwin is en met nuwe materiaal gemeng is om die pad te bou.

Die ou sementpad was die oudste bestaande sementpad in die land. Volgens Bakker is die pad oor ’n afstand van 27,67 km herbou. “Dit is belangrik om te weet dat die koste van R250 miljoen nie ’n liniêre-berekening is nie.

Die bedrag het ʼn aanvanklike vloedskadeprojek ingesluit asook die oprigting van twee strukture voordat daar met die fisiese opgradering van die pad begin is.”

Die koste van die hele projek wat in 2021 begin het en in Februarie 2025 voltooi is, het R250 miljoen beloop. Simmers het gesê dat die projek 289 werksgeleenthede geskep het.

Ongeveer R50 miljoen van die koste is aan plaaslike besighede en opkomende kontrakteurs betaal.
Die uitvoerende burgemeester van Kannaland, Jeffrey Donson, het die lint saam met die minister geknip om die pad amptelik te open.

Simmers het bygevoeg dat sy departement se rol die opgradering en instandhouding van paaie is, maar dat dit die padgebruikers se taak is om die pad verantwoordelik te gebruik. “Bly asseblief binne die spoedgrens, gee gehoor aan padreëls en moenie voertuie oorlaai nie,” het hy gesê. (HANNES VISSER)