Positiewe nuusby netwerkaand

Uitvoerende burgemeester van Oudtshoorn, Johan Allers, aan die woord tydens die Oudtshoorn Besigheidskamer se netwerkaand. Foto: Angelique Erasmus

Die uitvoerende burgemeester van Oudtshoorn, Johan Allers, het Donderdag tydens die besigheidskamer se netwerkaand positiewe nuus met die 85 gaste gedeel. Hy is deur Jacques de Beer, prinsipaal van Pam Golding wat die aand geborg het, gevra om met die gaste te gesels. Die burgemeester het op twee kwessies gefokus waaroor inwoners kwellinge het.

Die eerste was die buitensporig-hoë rekeninge vir vullisverwydering wat besighede en organisasies in Oktober ontvang het. Allers het verduidelik dat ’n formule gebruik is en volgens ’n telling van swartsakke wat in Mei gedoen is, terugwerkend bereken is.
Hy het gesê dat hy onbewus was van die skielike verhoging en dat dit na ’n dringende vergadering met senior amptenare ongedaan gemaak is.

“Tariewe kan nie in die loop van ’n boekjaar terugwerkend verander word nie. Ons gaan die rekeninge hou soos wat hulle in Julie was vir die volle finansiële jaar,” het hy gesê. Hy het bygevoeg dat die veranderinge eers met die nuwe boekjaar in werking sal tree, maar dat dit voorafgegaan sal word deur samesprekings met inwoners en sakelui.

Die tweede aspek wat hy aangespreek het, was die riooltariewe wat deur AfriForum voor die hof gebring is. Inwoners word tans vir riooldienste belas volgens die aantal toilette per huishouding. Allers het gesê dit is nie ’n regverdige stelsel nie. “Jare gelede het mense byvoorbeeld ’n groot huis vir ’n groot gesin ingerig met meer as een toilet. Nou woon die bejaarde egpaar alleen daar, maar hulle moet nog vir ’n klomp toilette betaal.

In ’n ander huis wat net een toilet het, bly ’n hele klomp mense, maar hulle betaal baie minder. Ons sal dringend hierna moet kyk om ’n ander manier te kry om riooltariewe vas te stel,” het hy gesê.

Hy het op navraag hieroor aan Die Hoorn gesê: “Die direkteur van finansies is besig om die model hoe ons nuwe riooltarief bereken gaan word, te finaliseer teen 12 Desember. Die tariewe sal met die gemeenskap se insette bereken word vir inwerkingstelling Julie 2025.”

Donderdag se netwerkaand waartydens vier nuwe lede bekendgestel is, was die besigheidskamer se laaste een vir 2024. Hulle volgende funksie is die gala-geleentheid op 22 November by De Opstal. Kaartjies kos R400 per persoon wat vroegtydig by Helen Butler (084 443 6320) bespreek moet word. (HANNES VISSER)