Polisiegeneraal op 23 en 24 November verhoor

DIE polisiegeneraal van Pretoria wat teregstaan op sewe aanklagte van crimen injuria, sal op 23 en 24 November in die Oudtshoorn Landdroshof verhoor word.

Die datums is Vrydag in die goedgekeurde afwesigheid van die beskuldigde bepaal.

Sandra Thema (57) word daarvan aangekla dat sy op 7 November 2016 tydens ’n besoek aan die Oudtshoorn Polisie Akademie sewe opleidingsbeamptes na die verhoog geroep en voor sowat 450 rekrute op- en aanmerkings oor hul voorkoms gemaak het. Sy het na bewering beledigende opmerkings gemaak oor hul kleredrag, gewig en velkleur onder toejuiging van die rekrute.

Landdros Graehymme Williams het met Thema se vorige verskyning op 4 Augustus goedkeuring verleen dat sy Vrydag vir die vasstelling van haar verhoordatums afwesig kan wees omdat sy in Pretoria woonagtig is. (Deur Garnett Wicomb)