DIE raadslid van die Kannaland Independent Party (KIP) wat sedert Januarie vanjaar die speaker was van die Kannaland-raad, Rodge Albertus, se lidmaatskap van sy party is reeds geruime tyd gelede opgeskort.
In ’n brief aan Ian Avontuur, wnde munisipale bestuurder van die Kannaland Munisipaliteit, skryf Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, KIP het reeds op 29 Julie 2022 alle partye – Albertus self, die kantoor van die munisipale bestuurder, die OVK en sy eie kantoor, ingelig dat Albertus in ’n tugverhoor skuldig bevind is aan wangedrag en sy lidmaatskap van KIP met onmiddellike effek opgeskort is.
Die party het voorts aangedui dat Peter-George Rooi die aangewese kandidaat van KIP in die plek van Albertus is.
In sy brief versoek Bredell vir Avontuur om ingevolge wetgewing die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) in te lig van die vakature wat in die raad ontstaan het.
Volgens die skrywe het Albertus op 3 Augustus aangedui dat hy van voorneme was om teen sy skorsing te appelleer, waarna KIP op 4 Augustus in ’n skrywe aangedui het dat hy die party binne vyf dae skriftelik moet inlig op grond waarvan hy appelleer.
Op 12 Augustus is hy ingelig dat sy appèl van die hand gewys word omdat hy nie binne die toegelate tydperk gereageer het nie.
Die vakature wat deur Albertus se verwydering uit sy party ontstaan het, hou nou ook in dat die Kannaland-raad ’n nuwe speaker sal moet verkies. (Deur Deon Meyer)
Kannaland-speaker deur eie party verwyder
Rodge Albertus. Foto: Deon Meyer