Polisiegeneraal in Oudtshoorn-hof

DIE polisiegeneraal wat daarvan aan­gekla word dat sy op 7 November 2016 beledigende opmerkings ge­maak het oor die kleredrag, gewig en velkleur van sewe opleidingsbeamp­tes van die Oudtshoorn Polisie-aka­demie, het verlede Dinsdag (24 Mei) vlugtig in die Oudtshoorn Landdros­hof op sewe aanklagte van crimen injuria verskyn.

Sandra Thema (57) word daarvan aangekla dat sy tydens die besoek aan die akademie die sewe opleidingsbeamptes na die verhoog geroep het en op- en aanmerkings oor hul voor­koms gemaak het onder die toejui­ging van die sowat 450 rekrute.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NGV) het ná jare besluit om Thema vir crimen injuria te vervolg.

• Luidens ’n persverklaring van AfriForum het die NVG aanvanklik geweier om vervolging in te stel waarna AfriForum se privaatvervolgingseenheid in 2019 deur Solida­ri­teit en een van die opleidingsbeamptes, kapt Riana Stander (voor­heen Viviers), genader is om die be­skul­digde privaat te vervolg.

Die Direkteur van Openbare Vervolging in Kaapstad (DOV) het aanvanklik aangedui dat daar nie prima facie-bewyse vir klagtes van crimen injuria teen die beskuldigde was nie.

Toe die privaatvervolgingseenheid egter in Julie 2019 namens Stander ’n nolle prosequi-ser­tifikaat aangevra het om die beskuldigde privaat te vervolg, het die NVG versuim om gehoor te gee aan wetge­wing wat hulle verplig om só ’n sertifikaat uit te reik as die staat besluit om nie te vervolg nie.

Ná vele skrywes en druk op die NVG het die DOV uiteindelik op 28 Maart 2022 aangedui dat die staat wel die beskuldigde gaan vervolg. (Deur Garnett Wicomb)