Munisipale begroting nie voor 31 Mei-spertyd goedgekeur

DIE munisipale raad van die Groter Oudts­hoorn kon nie Dinsdag daarin slaag om die raad se begroting vir 2022/2023 voor die spertyd vir munisipale begro­tings van 31 Mei goed te keur nie.

Hoewel die burgemeester, Chad Louw, die begroting vir goedkeuring aan die raad voorgelê het, het slegs die twaalf raads­ede van die ANC, OGI, Advieskantoor, Good en PA dit ge­steun. Die steun van dertien raadslede is nodig vir ’n meerderheidsbesluit.

Die beherende koalisie het nie tans ’n meerderheid in die raad nie met ’n vakature vir ’n raadslid vir Saamstaan wat nog nie ge­vul is nie.

Die twaalf opposisieraadslede van die DA, Icosa en die VF Plus het teen die goedkeuring van die begroting ge­stem op grond daarvan dat sekere belang­rike pro­sesse nog nie plaasgevind het nie.

Raads­lede Chris Macpherson (DA) en Vlancio Donson (Icosa) het daarop gewys dat daar nie vanjaar soos in die verlede ’n werks­winkel oor die begroting was waar raads­lede vrae kon vra en insette kon lewer, die begroting bespreek kon word en hulle ingelig kon word nie.

Die Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) vir die Groter Oudtshoorn is voorts ook nog nie bespreek en goed­ge­keur soos vereis word nie, terwyl die munisipale organogram ook nog goedgekeur moet word.

Donson het ook sy kommer daar­oor uitgespreek dat die huidige raad nog slegs 30% tot 40% van die kapitale toewysings (grants) wat deur die regering aan die dorp beskikbaar ge­stel is vir die belastingjaar 1 Julie 2021 tot 30 Junie 2022 bestee het.

Die speaker, Colan Sylvester, het in reaksie hierop aangedui dat die raad weer op Maan­dag 6 Junie sal vergader en die begroting sal oorweeg vir goedkeuring. Intussen sal die raad aandag skenk aan die uitstaande prosesse. (Deur Liesel le Roux)