TWEE polisiehonde en hul hanteerders was Saterdag in die vroeë oggendure die helde wat twee inbrekers in Parkweg op Oudtshoorn in hul spore gestuit het!
Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het twee mans omstreeks 03:15 by ’n huis in Parkweg oorkant die SANW ingebreek nadat hulle ’n hek oopgebreek het. Die inwoners was uitstedig, maar ’n inwoner van die omgewing het die Polisie ontbied.
Twee ervare lede van die Attequa K9-eenheid op Oudtshoorn, sers Daniel Mc Duling en sers Brandon Hifke, het met hul honde, Roy en Duke, gereageer en die donker huis binnegegaan.
Die twee inbrekers, 33 en 37 jaar oud, is met messe en toerusting wat vir ’n inbraak gebruik kan word, in hul besit betrap.
Hulle is op die toneel in hegtenis geneem.
Die mans is volgens Visser na hul inhegtenisneming na die Oudtshoorn Hospitaal geneem omdat hulle bytwonde opgedoen het en behandeling daarvoor moes ontvang.
Die Polisie ondersoek ’n saak van huisbraak en diefstal. (Deur Liesel le Roux)
Polisiebeamptes en honde stop inbrekers in spore!
Sers Daniel Mc Duling met sy hond Roy (links) en sers Brandon Hifke met sy hond Duke by hom. (Foto verskaf.)
Gee daardie twee honde elkeen n lekkker vet been. Welgedaan.