Bo: Vlancio Donson (Icosa, links) en Colan Sylvester (Ogi) wat Woensdag verkies is tot onderskeidelik onder-burgemeester en speaker.
DIE 24-jarige Chad Louw van die ANC is gister tydens die Groter Oudtshoorn-raad se inhuldigingsvergadering tot nuwe burgemeester van die dorp verkies.
Louw is ’n inwoner van Dysselsdorp wat Wyk 12 vir die ANC gewen het.
Vlancio Donson van Icosa is tot onderburgemeester verkies. Hy is ’n voormalige burgemeester van die Groter Oudtshoorn.
Nog ’n voormalige burgemeester, Colan Sylvester, is verkies tot die nuwe speaker.
Sylvester wat in 2016 verkies is tot DA-burgemeester, het in 2020 uit die DA en as raadslid bedank.
Hy is as ’n proporsionele raadslid van die Oudtshoorn Gemeenskapsinisiatief (Ogi) tot die raad verkies.
Die ANC, Icosa en vier van die vyf nuwe partye – Ogi, die Advieskantoor, die Patriotic Alliance en Suid-Kaap Saamstaan – is die koalisie wat die raad vir die volgende vyf jaar sal bestuur en wat saam die nuwe ampsdraers verkies het.
Good het buite stemming gebly terwyl die VF Plus en DA ander kandidate gesteun het.
Die vergadering wat vir 09:00 geskeduleer was, is na ’n halfuuur verdaag tot 11:00 omdat daar nie ’n kworum van raadslede was nie. Talle inwoners het die verrigtinge op ’n groot skerm in die ouditorium gevolg asook op Facebook waar die vergadering ook uitgesaai is. (Deur Garnett Wicomb)
