Icosa, ANC in beheer van Kannaland

Jeffrey Donson (Icosa) wuif nadat hy verlede jaar tot burgemeester van Kannaland verkies is.

Speaker Nicky Valentyn (ANC) hang die burgemeestersketting om Donson se nek. Foto’s: Deon Meyer

ICOSA en die ANC sal die Kannaland Munisipaliteit oor die volgende vyf jaar beheer.

By Kannaland se eerste raadsvergadering Dinsdagoggend is Jeffrey Donson (Icosa) tot burgemeester, Werner Meshoe (Icosa) tot onder- burgemeester en die ANC se Nicky Valentyn tot speaker verkies. Hyron Ruiters (Icosa) is verkies as die raad se verteenwoordiger in die Tuinroete Distriksmunisipaliteit.

Icosa het soos in die 2016-verkiesing die meeste stemme van inwoners gekry en drie raadsetels verower, terwyl die ANC twee gekry het. ’n Meerderheid van vyf raadslede is nodig om dié munisipaliteit te kan lei.

Die DA en die Kannaland Independent Party (KIP) het elk een raadsetel in die verkiesing gekry.

Na die 2016-verkiesing het Icosa ook drie raadslede gehad met die DA en ANC twee elk.

Streng Covid-19-regulasies het by die vergadering in die stadsaal gegeld, met landdros Dmitri Mitchell wat die inswering waargeneem het.

Die ander raadslede is Werner Meshoa (Icosa), Rodge Albertus (KIP), Aletta Steenkamp (DA) en Leonie Stuurman (ANC).

Die munisipale bestuurder, Morné Hoogbaard wat die raadslede verwelkom het, het die hoop uitgespreek dat Kannaland onder hul leiding die volgende vyf jaar van krag tot krag sal gaan.

Donson het op sy beurt gesê hy wil beklemtoon dat hy burgemeester vir elke inwoner van Kannaland is en nie slegs vir sy kiesers nie. (Deur Deon Meyer)