Frustrasie onder inwoners, toerisme-ondernemings, boere en besighede neem toe namate die R328, beter bekend as die Grottepad, reeds langer as ’n maand gesluit is ná ’n groot rotsstorting op 6 Mei plaasgevind het.
’n Aanlyn petisie wat die afgelope naweek van stapel gestuur is, het binne enkele dae duisende handtekeninge gelok. Die petisie vra die Wes-Kaapse Regering om die herstel van toegang langs die R328 as ’n dringende prioriteit te verklaar en gereelde terugvoer aan die publiek te gee oor die vordering van herstelwerk. Teen Dinsdagmiddag het meer as 2 800 mense reeds die petisie ondersteun.
Volgens die petisie is die R328 veel meer as net ’n pad. Dit dien as die hoofverbinding tussen Oudtshoorn, die Kango-vallei, Matjiesrivier, die Swartbergpas en Gamkaskloof (Die Hel), en vorm die ekonomiese lewensaar vir talle gemeenskappe, toerismebedrywe en landbou-ondernemings in die gebied.
Die skrywers van die petisie waarsku dat die voortdurende sluiting reeds tot kansellasies, verminderde besoekergetalle en finansiële verliese lei. Die pad is sedert 9 Mei gesluit nadat swaar reën en oorstromings, rotsstortings in die Schoemanspoort-gebied veroorsaak het. Sedertdien werk spesialis-spanne aan die stabilisering van die berghelling voordat die puin veilig verwyder kan word.
In ’n mediaverklaring wat Maandag deur die Wes-Kaapse Minister van Infrastruktuur, Tertuis Simmers, uitgereik is, word bevestig dat herstelwerk onlangs nog ’n terugslag beleef het toe ’n tweede ernstige stormstelsel die streek tussen 3 en 5 Junie getref het.
Volgens Simmers was spesialis-spanne besig om die aanvanklike veiligheids-werk te voltooi toe die storm verdere erosie veroorsaak en sommige van die voorlopige stabiliseringswerk beskadig het. Geotegniese spanne het op 8 Junie na die terrein teruggekeer om die kritieke stabiliseringswerk voort te sit.
“Hierdie veiligheidsingrypings bly noodsaaklik voordat rotsval-puin verwyder kan word en voordat die roete veilig vir die publiek heropen kan word,” lui die verklaring. Die departement sê dit sal op hierdie stadium voortydig wees om ’n heropeningsdatum te gee en dat vordering op die terrein voortdurend geëvalueer word voordat enige tydlyn bekend gemaak kan word.
Die onlangse storms het ook alternatiewe roetes geraak. Dele van die Buffelskloof-roete (MR363) en die Swartbergpas-roete (MR369) het skade opgedoen weens oorstromings en hoë rivierlope.
Noodherstelwerk is tans aan die gang om toegang op dié roetes te herstel. Ondertekenaars van die petisie vra onder meer dat addisionele hulpbronne beskikbaar gestel word om herstelwerk te versnel, dat veilige alternatiewe toegang ondersoek word en dat ekonomiese steun oorweeg word vir ondernemings wat swaar deur die sluiting geraak word.
Vir baie inwoners is die kwessie egter nie net ekonomies nie. Die pad word daagliks gebruik vir toegang tot skole, gesondheidsdienste, werkgeleenthede en nooddiensreaksie. Die langdurige sluiting plaas volgens die petisie toenemende druk op gemeenskappe wat reeds deur die onlangse vloede geraak is.
Terwyl die herstelwerk voortduur, bly die boodskap van inwoners duidelik: die Grottepad is nie bloot ’n toeristeroete nie, maar ’n noodsaaklike verbinding waarvan die impak van die sluiting daagliks verder gevoel word. Teen druktyd was die pad reeds 35 dae gesluit. (ANGELIQUE ERASMUS)
Lees ook:
