Vir Celeste Engelbrecht gaan haar storie nie net oor kanker nie. Dit gaan oor geloof wat vrede bring, ’n man wat haar deur die donkerste dae dra, ’n driejarige dogtertjie wat lig in haar lewe bring, en ’n gemeenskap wat wys dat klein gebare ’n groot verskil kan maak.
Vandag deel sy haar reis met een doel: om ander te herinner dat daar hoop is.
“Toe ek in die beginstorm van my diagnose was, het ek gesoek na mense wat hulle stories vertel,” sê sy.
“Ek wou nie net weet wat jy kan Google nie. Ek wou die goeie, die slegte en die lelike weet. Ek wou weet waardeur hulle gegaan het en hoe dit regtig is om ’n mastektomie te hê.”
Die onderwyser van Eljada-Kairos Skool, waar sy sedert 2021 klasgee, sê sy wil mense bemoedig, maar terselfdertyd ook die werklikheid van kanker wys.
“Ek wil vir mense die bemoedigende boodskap gee, maar ook die realiteit daarvan wys – op ’n positiewe manier.”
’n Reis van geloof en hoop
Celeste se borskanker is op 5 September verlede jaar gediagnoseer nadat ’n knop wat aanvanklik nie as kwaadaardig beskou is nie, ondersoek is.
Sy beskryf die oomblik van haar diagnose as die toneel uit ’n fliek wanneer ’n bom ontplof. “Daar is ’n KABOOM, waarna alles stil en chaoties gevoel het.”
Kort ná die “bomskok” het sy ’n onverklaarbare vrede ervaar nadat sy tot God uitgeroep het.

Foto: Ilse Jordan
“Ek het net rustigheid en kalmte ervaar nadat ek geweet het Hy sal my nooit verlaat nie.”
Sy verduidelik ook hoe die Bybelvers Josua 1:9 haar van daardie dag af gedra het: “Het Ek jou nie beveel nie: Wees sterk en vol moed, wees nie bevrees of verskrik nie; want die HERE jou God is met jou, oral waar jy heengaan.”
Daardie geloof het haar deur 16 sessies chemoterapie, twee bloedoortappings, gereelde inspuitings en talle uitdagings gedra.
“Net voor die operasie sê die chirurg vir my hoe aggressief my kanker is. Die gewas kry volpunte vir alles wat jy nie wil hê nie. Nege uit nege, of ’n graad 3-gewas, soos hulle sê.”
Sy vertel hoe moeilik dit was om haarself vir die eerste keer ná die mastektomie in die spieël te sien. “Waar my vroulikheid eens was, is daar pleisters en pype en pyn.”
Mettertyd het haar perspektief verander. “Ek kyk nou na myself en sien ’n vrou, ’n mamma, ’n dogter en vriendin. Ek sien ’n oorwinnaar.”
Gedra deur die mense om haar

Volgens Celeste was haar man, Herman, die anker wat haar deur die moeilikste dae gedra het. “My man het my deur die hele tyd gedra. Hy het alles gedoen en meer,” sê sy. Benewens die versorging van haar en hul driejarige dogtertjie, Hannah, het hy ook ’n nuwe besigheid begin en steeds seker gemaak dat sy nooit alleen deur die stryd hoef te gaan nie.
Hannah, wat spesiale behoeftes het, was ook deel van die hele proses. Sy vertel dat dit moeilik was wanneer sy te siek was om haar dogter te help, maar dat die tyd hulle as gesin nader aan mekaar gebring het.
Om haar gedagtes besig te hou, het sy haar toegewy aan hul blomme-, vrugte-, groente- en kruietuin. En hoewel sy op siekverlof was, het sy steeds gereeld haar kollegas en leerders by Eljada-Kairos Skool besoek.
Sy is ook dankbaar vir vriende, kollegas, familie, ’n doktervriend wat gereeld by haar kom inloer het, haar onkoloog en die susters by onkologie, asook die mense wat sy langs die pad ontmoet het.
Haar raad aan ander wat dieselfde pad moet stap, is eenvoudig:
“Mense wil help, maar hulle weet nie altyd hoe nie. Wees eerlik en sê vir hulle wat jy nodig het, al is dit net iemand wat stil langs jou sit en ’n koppie koffie saam drink.
“Bly positief, al is dit moeilik. Huil wanneer jy moet huil, maar oor die algemeen moet jy positief bly. Wees mooi met jouself. Die lewe is klaar hard genoeg op jou. En rus wanneer jy moet rus.”
Liefde in klein gebare
Ná maande van chemoterapie, ’n dubbele mastektomie en ’n uitmergelende kankerstryd het Celeste gedink sy het al die emosies beleef. Toe haar man, Herman, twee dae ná haar operasie by die huis instap met blomme, geskenke en spesiale boodskappe van personeel by Dis-Chem Oudtshoorn, was sy egter opnuut oorweldig.

“Jy inspireer ons so baie met jou lewenslus, positiwiteit en dapperheid,” skryf hulle. “Jy deel jou storie met soveel selfvertroue en ons glo met ons hele hart dat jy hierdie uitdaging sal oorwin.”
Die personeellede vertel hoe hulle haar met elke besoek sien glimlag het, selfs terwyl sy deur chemoterapie en behandeling gegaan het.
Die personeel bring ook hulde aan Herman: “Mnr. Engelbrecht, ons salueer u … dankie dat u elke tree van die pad saam met mev. Engelbrecht stap.”
In die geraamde boodskap beskryf hulle Celeste as ’n vrou met “legendariese krag”, wat haarself met grasie dra en ander herinner wat ware moed beteken.
Vir haar was dit nóg ’n bewys dat ’n gemeenskap wat saamstaan, selfs die swaarste laste ligter kan maak.
Personeellede van Dis-Chem Oudtshoorn, waar Celeste en haar gesin oor maande heen meer as net kliënte geword het, het geld bymekaar gesit om haar en haar gesin met blomme, geskenke en boodskappe van hoop te verras.
Saam met die blomme het die personeel ’n persoonlike brief en geraamde boodskap oorhandig.
“Moenie ooit bang wees vir ’n litteken nie, want dit beteken eenvoudig jy was sterker as dit wat jou probeer seermaak het.”
Gereed vir die volgende hoofstuk
Kort ná haar dubbele mastektomie het die uitslag gekom waarop sy gehoop het: “Elke liewe sel is weg.”

Na die positiewe nuus is Celeste onlangs weer terug in die klaskamer as onderwyser by Eljada-Kairos Skool.
Met haar juffroutas gepak en haar wekker gestel, het sy verduidelik dat sy “uit haar nate” opgewonde was om weer haar leerders en kollegas te sien, maar die keer nie net om hallo te sê nie, maar om te bly.
Vir Celeste gaan die “ná”-hoofstuk nou nie oor kanker nie, maar oor die lewe wat voorlê.
“Hierdie is nie net remissie nie. Hierdie is oorwinning. Ek het deur die vuur geloop, maar ek het nie gebrand nie. Hy het my nie verlaat nie – nes Hy gesê het op daardie dag. Hier sit ek vandag, gesond en dankbaar vir ons Hemelse Pappa en reg om die volgende hoofstuk aan te pak.”
Sy hoop haar verhaal sal vir ander wat pas ’n diagnose ontvang het, dieselfde troos bring wat sy self gevind het.
“Kanker is swaarder as wat ’n mens dink, maar as ’n mens dit regtig aanvaar, kan jy ongelooflike vrede ervaar. ’n Mens kan regtig ’n mooi pad daarvan maak en ‘n mens leer baie van jouself.
“Sonder my man, familie en ondersteuningsnetwerk, en elke liewe persoon wat vir my gebid het, sou dit nie so draaglik gewees het nie.
“Ek is kankervry!”
(MALISSA SPIES)
Lees ook:
My kankerverhaal – die dag waarop my lewe radikaal moes verander